Longacres en ’n liefde vir landbou gaan hand aan hand, soos dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, self gesien het.

Meyer en lede van die Vroue-Landbouvereniging Kaapland (VLVK), Sirkel Weskus en die Langebaantak, het twee Langebaanse skole verlede week besoek. Twee Essenhoutbome, onderskeidelik by Longacres Privaatskool en die vroeëkinderontwikkeling­sentrum Seeskulpie, is met die hulp van die minister geplant. Die bome is deur die VLVK en die Elim-gemeente, Langebaan geskenk.

Petrie Oettle, die stigter van die twee skole, het sedert kindsbeen ’n liefde vir landbou, wat nou deel vorm van beide skole. By die geleentheid het besoekers ook kans gekry om Seeskulpie se groentetuin te besigtig.

Die burgemeester van die Weskus-distriksmunisipaliteit, Boffie Strydom, en die onderburgemeester van Saldanhabaai, Charmain Loubser, was ook byderhand.

Volgens die Longacres-skoolhoof Edmund Barkhuysen is dit wonderlik om deel van die VLVK se inisiatief te wees.

“Die plant van dié boom sal vir geslagte onthou word. Die boom sal beskou word as ’n simbool van respek vir almal betrokke,” het die hoofleier, Liam Koopman, die betrokkenes bedank.

Bronwyn Jordaan, mede-hoofleier, meen die boomplantdag was ’n blye dag vir die gemeenskap sowel as die skool.

Meyer het die leerders aangemoedig om in die diverse landbousektor te spesialiseer. “Indien twee mense verby ’n lekkende waterpyp stap, sal ek vinnig vir jou kan sê watter een is in die landbousektor. Dit is die een wat vinnig aan ’n plan kan dink om dit reg te maak; die een wat weet Suid-Afrika is die 51ste droogste land ter wêreld, en wat die belangrikheid van daardie vermorste water verstaan,” het Meyer verduidelik.

Hy meen dit is juis diegene in die landbousektor wat die land sal opbou en ’n krisis soos dié van voortslepende beurtkrag sal help oorkom.

Volgens die minister is daar 17 000 boere in die provinsie en hoewel die plaaslike kommersiële sektor slegs 10% van Suid-Afrika se landbou verteenwoordig, dra hulle sowat 20% tot die land se kommersiële boerdery by.

Estelle du Plessis, die VLV Kaapland president en organiseerder van die geleentheid, het verduidelik die plant bome is belangrik vir die organisasie. VLV Kaapland het ‘n projek genaamd “Bome vir ons kinders”. Meyer was in 2020 die VLV Kaapland se Dankie Persoon en met die kontant wat die VLV Kaapland aan hom oorhandig het, het hy aangevoer die organisasie gebruik dit vir  “Bome vir ons kinders”.

Die minister het die organisasie uitgedaag om ‘n duisend bome te plant. Meyer het reeds 100 bome aan Sirkel Weskus geskenk en dié vroue het reeds die bome in verskeie dorpe geplant.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article