Die Vroue Landbouvereniging (VLV) se Weskus-sirkel het op Vrydag 8 Desember die plaaslike Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se kantore besoek en geskenke aan hulle oorhanding ter erkenning van die wonderlike werk wat hulle agter die skerms doen.
“Hulle moet baie keer in slegte weer en omstandighede mense gaan help, terwyl ons rustig slaap of vakansie hou,” sê Elsabe Carstens, Sirkel Weskus se president.
Daarom het die 14 takke van die Sirkel Weskus saamgespan om Kersgeskenke op te maak. Daarna het vier van die bestuurslede, naamlik Carstens, Marié Grobbelaar (visepresident/sirkelsekretaris), Dinette Lochner (sirkeltesourier ) en Melaine Brand (sirkel-leefstylsameroeper) eers by die NSRI St. Helenabaai, Stasie 44, saam met lede van St. Helenabaai-tak, Elsa Kotze, Isa Pump en Koekie van der Merwe, die geskenke aan Devon Wild, stasiebevelvoerder, oorhandig.
Die vier bestuurslede is hierna na die NSRI Langebaan, Stasie 4, Club Mykonos, waar die res van die Kersgeskenke afgegee is aan Nic Stevens, stasiebevelvoerder.
Sirkel Weskus het ’n spesiale dank gerig aan Melaine Brand, wat afgevaardig is en self ’n seun het wat nou sy opleiding ontvang, vir al die reëlings wat sy getref het om die Kersgeskenke te gaan oorhandig.
“Sirkel Weskus is dankbaar om ook hierdie Kerstyd hoop-uitdelers te kon wees . . . Kom ons word in hierdie dae die helder Somerkersfees in ander se harte,” sê Carstens bemoedigend.





