“Hulle het glo gedink hulle vang ’n rower.”
’n Groep mans het Vrydag 6 Januarie ’n hoërskoolleerder in St. Helenabaai gejaag en platgetrek nadat hy uit ’n motor gespring en die bestuurder van die motor glo om hulp geroep het.
Die graad 11-leerder Wafeeq Matheyse (19) het daarna ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer by die St. Helenabaai-polisie aangemeld.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die jong man aan die polisie vertel dat hy op 6 Januarie om 12:18 saam met sy werkgewer in ’n motor gery het. Hy het die deur oopgemaak en probeer uitspring, waarna sy werkgewer volgens hom sy sak gegryp en om hulp geskree het.
“ ’n Paar mans in die omgewing het die jong man begin jaag en hom aangerand omdat hulle glo gedink het dat hy sy werkgewer beroof het,” het Helfrich verduidelik.
Ná die voorval het ’n spreekwoordelike bom op sosiale media gebars en die ontevrede Laingville-gemeenskap het daarop aangedring dat die mans in hegtenis geneem word.
Thyrone Williams, die GOOD-party se proporsionele raadslid vir die gebied, het die polisie tot Sondagmiddag kans gegee om die mense in hegtenis te neem, anders sou die Laingville-gemeenskap by die polisiekantoor bymekaarkom en daar bly totdat bewyse gelewer is dat werk van die saak gemaak word.
Volgens Williams het die gemeenskap Sondagmiddag vreedsaam by die polisiekantoor vergader, maar almal is later terug huis toe nadat hulle gerusgestel is dat die polisie wel sal optree.
“Een verdagte is by sy woning in hegtenis geneem en die ander was nie by die huis nie, maar die polisie het boodskappe gelaat dat hulle hulself moet kom oorgee wanneer hulle tuis kom,” het Williams gesê.
Die volgende oggend, Maandag (9 Januarie) het Williams en ’n kollega Matheyse na die polisiekantoor geneem om die ander twee mans te gaan identifiseer.
Helfrich het bevestig die drie mans het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn, maar die saak is nie op die hofrol geplaas nie.
Daar is glo nie meriete vir vervolging nie.
Helfrich het gesê die kwessie is nie ’n “rassevoorval” nie, aangesien “mans van alle rasse op die toneel was”.
Volgens die mans se verklaring aan die polisie het hulle regtig gedink die vrou word beroof en hulle het glo net probeer help. Die werkgewer het uiteindelik Maandagmiddag haar verklaring by die polisiekantoor gaan aflê.
Volgens Matheyse het hy vir die vakansie by haar onderneming gewerk. Hy was Vrydag glo in ’n stryery met een van die werknemers en hy het teen middagete besluit hy stap huis toe omdat, volgens hom, op hom geskree is en hy “weggejaag” is.
Sy werkgewer het egter agter hom aangery en hom gevra om in haar motor te klim. Matheyse sê hy het weer uit die motor gespring nadat hy gehoor het sy wil hom terug werk toe neem.
Die werkgewer het na bewering geskrik toe Matheyse probeer uitspring en sy sak gegryp om hom te keer. Sy het glo om hulp geroep omdat sy gevrees het vir die man se veiligheid. Maar volgens Matheyse se weergawe van wat gebeur het, het die werkgewer geskree dat sy beroof word.
Matheyse sê hy het nie weggehardloop omdat hy iets verkeerd gedoen het nie, maar omdat hy bang was vir haar en vir die mans en voertuie wat op hom begin afpyl het. Weslander het die werkgewer gekontak om agter die kap van die byl te kom. Sy het egter laat weet dat sy regsadvies ontvang het om niks in hierdie stadium te sê nie. ’n Betroubare bron het egter aan Weslander gesê Matheyse het glo sy volle loon Vrydag gekry en is huis toe sonder om sy werk te voltooi. Volgens hierdie bron het die werkgewer eers na Matheyse se huis gery en met sy ma oor haar ontevredenheid gaan praat. Sy het glo aan sy ma gesê sy gaan hom terugvat werk toe. Daarna het sy gery en hom langs die pad gekry, waar hy nog op pad huis toe gestap het.
Williams sê hy het die werkgewer Maandagmiddag by die St. Helenabaai-polisie gekry toe sy haar verklaring kom aflê het. Sy het glo aan hom gesê sy het tot nou laag gelê omdat sy bang was om vroeër polisiekantoor toe te kom en doodsdreigemente uit die gemeenskap ontvang het.
Sy het aan Williams gevra om die gemeenskap te versoek om haar nie verder te teister nie en gesê haar sake-onderneming ly nou skade weens die voorval.
“Ek het gesê ek sal so versoek aan die mense rig, maar ek het ongelukkig nie beheer oor wat hulle in die privaatheid van hul huise doen nie,” het hy verduidelik.
Williams het teen druktyd aan Weslander gesê die gemeenskap is ontevrede dat die saak nie op die hofrol geplaas is nie. Hulle sou die senior staatsaanklaer Woensdag om 12:00 by die hof gaan spreek. “Net vir die rekord, as so iets weer met enige kind gebeur, ongeag sy ras of kleur, sal ons daar wees om daardie ouers te help.”


