Die lid van die Suid-Afrikaanse Vloot wat na bewering in 2021 ’n vrou in Saldanha se hoofstraat doodgery het, het Maandag (15 April) in die Vredenburgse landdroshof skuld ontken.
Die saak van strafbare manslag teen Keamogetswe Khunofu (27) is einde Februarie weer op die hofrol geplaas nadat dit in 2022 weens ’n gesloer met die ondersoekwerk van die rol geskrap is.
Dit het ingryping van AfriForum se private vervolgingseenheid gekos om die saak teen Khunofu te laat voortgaan.
Hy word daarvan aangekla dat hy Michelle de Clerck op 9 November 2021 voor die OK Minimark doodgery het terwyl sy die straat oorgesteek het.
Ooggetuies beweer daar was ’n resies tussen Khunofu en ’n ander motor wat ná die ongeluk van die toneel af weggejaag het. Omstanders beweer ook dat Khunofu roekeloos bestuur het en dronk was ten tyde van die ongeluk.
Khunofu was destyds ’n student aan die Universiteit Stellenbosch se krygskunde-fakulteit by die SAS Saldanha-vlootbasis. Hy het steeds ’n maand later gegradueer.
De Clerck se familielede woon getrou die hofsaak by. Haar ouers, André en Elmarie de Clerck, bekendes in perdekringe in die Weskus en Wes-Kaap, hoop dat geregtigheid sal geskied. Die ondersoekbeamptes in die saak het hulle van die dag van die ongeluk af aan ’n lyntjie gehou en hulle het gesukkel om antwoorde uit hulle te kry.
Die saak is talle kere uitgestel omdat belangrike aspekte van die ondersoek, soos bloedalkoholuitslae en forensiese verslae, nie voltooi en by die dossier gevoeg is nie.
Die AfriForum-vervolgingseenheid het in Maart verlede jaar ’n diensklag teen die ondersoekbeampte en sy takbevelvoerder ingedien.
Die Weskus-polisie wou by verdere navraag geen kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie.
Die saak is tot Dinsdag 28 Mei uitgestel wanneer Khunofu se verhoor sal begin.





