Die wenners van die 58ste Fleur du Cap-toekennings is Sondag 26 Maart in Stellenbosch aangekondig.
Marinda Engelbrecht en Margit Meyer-Rödenbeck se Vlooi en die geheim het die prys in die afdeling vir beste produksie vir kinders en jongmense gewen.
Volgens Engelbrecht, ’n voormalige inwoner van Yzerfontein, gaan Vlooielke jaar op ’n nuwe avontuur. Die produksie bestaan al 22 jaar en is welbekend onder kinders en grootmense.
Engelbrecht is die regisseur en Meyer-Rödenbeck die teksskrywer.
Met die aankondiging van hul oorwinning by die Fleur de Cap-toekennings het Engelbrecht vertel hulle het dit glad nie verwag nie.
Sy voel kinderteater word dikwels onder mense as minderwaardig teenoor ander teaterproduksies beskou.
“Ons is egter innig dankbaar dat kinderteater wel erkenning kry,” sê sy.
“Duisende kinders kom jaarliks saam om Vlooi se nuwe avontuur op die planke te sien, en hulle geniet dit vreeslik. Omdat die kinders so bekend is met die karakters, is dit so lekker vir hulle om die produksie te sien. Dit is ook ’n ondervinding vir die kinders om die groot teater te ervaar.”
Engelbrecht voeg by as sy net een maatjie elke dag kan werf vir die teater, juig haar hart.




