Vlooi is terug op die planke, maar hierdie keer groter en beter as die afgelope 24 jaar. Vlooi gaan vir die eerste keer in die Operahuis kuier!
Vlooi en die Speelgoedkis beloof om ’n kleurvolle avontuur te wees. As die towersleutel begin gloei, beland Vlooi, Biebie en Wilma in ’n kasteel wat aan ’n rot behoort. Nie sommer enige rot nie – nee, ’n selfsugtige rotprinses met die naam Rottina. Hul pad kruis ook met Jack, wat gereeld uit sy kissie spring, en ook die bliksoldaatjie, Sersant Sollie. Daar is probleme, maar geen probleem is te groot vir Vlooi en sy maats nie. Hatchachachacha!
Daar is soos altyd hope gehoordeelname in die produksie en die leerders kry geleentheid om saam te sing, te dans en te help sodat die avontuur ’n sukses is. Dit bly ’n hoogtepunt op elke leerder in die grondslagfase se jaarkalender.
Die produksie het reeds twee Fleur du Cap-pryse ontvang en is vanjaar weer vir hierdie gesogte prys benoem.
Tracey Saunders van die Fleur du Cap-paneel het ná haar besoek verlede jaar die volgende op sosiale media gedeel: “Ek het nog altyd gewonder hoe dit moet wees om ’n Taylor Swift-konsert by te woon. Maar nie nou meer nie . . . die gehoor by die Kunstekaap- teatersentrum was rasend van opgewondenheid oor Vlooi en sy maats wat deur Parys en Antieke Rome op soek na die Olimpiese vlam toer.
“Die groot vreugde in die teater vandag was genoeg om enige pyn te verlig. Wat ’n ervaring! Daar is ’n spesiale plek in die hemel vir mense wat kinderteater doen. Dankie, dankie en nogmaals dankie.”
Twee vertonings word elke dag om 09:30 en 11:00 by die Kunstekaap in die Operahuis aangebied. Afrikaanse vertonings is van Dinsdag 5 tot Vrydag 8 Augustus en Maandag 11 Augustus. Engelse vertonings vind plaas van Dinsdag 12 tot Vrydag 15 Augustus.
Blokbesprekings van 10 of meer kos R80 per persoon en enkelkaartjies is R100 per persoon.
Vir meer inligting kontak Louise by 071 688 3033 of stuur e-pos na marinda.vlooi@gmail.com.




