Nes verlede jaar is die Kliphoek-rivieroord op die oewer van die Bergrivier weer oorstroom toe die rivier sy 100 jaar-vloedlyn ’n tweede agtereenvolgende jaar oorskry het.
Vir Mariette Havenga Kotzé van Kliphoek is dit ongelooflik om te sien hoe hoog wattervlakke gestyg het en die hoeveelheid water wat afgekom het. “Wie sou kon dink ’n mens sou twee sulke groot oorstromings, wat die 100-jaar-vloedlyn oorskry, in jou leeftyd beleef?” vra Kotzé.
Kotzé sê watervlakke is wel veel hoër as in 2023, maar sy is bly almal is veilig en gemoedere is beter as wat dit was toe hulle verlede naweek besef het dit was ’n groter vloed as verlede jaar. “Ons was platgeslaan, want jy kan nie glo dat alles wat jy verlede jaar opgebou het, weer tot niet is nie. Dit is werklik verskriklik om dit te ervaar.
“Op die plaas self is gesaaide lande onder water en verlede jaar was die water nie om Bloemendal se kraal nie. Die vloed is baie groter in omvang as verlede jaar.”
Die Kliphoek-rivieroord is ook weer erg getref met die chalets wat in diep water staan. “Die eerste chalet wat water ingeneem het, was op 13 Julie, en geleidelik het die res gevolg. Verlede jaar is vyf chalets ernstig geraak en die ander het minder skade [opgedoen] waar ons nou weet al 14 is geraak en het weer water in.”
Iets wat baie vir die span by Kliphoek beteken, is die gebede, drukkies en boodskappe van die gemeenskap. “Dit beteken verskriklik baie vir ons en gee ons moed.” Sodra watervlakke gesak het, sal hulle meer duidelikheid hê en kan vasstel watter skade opgedoen is. Kotzé voeg by dat hulle vir almal wat deur hierdie oorstromings geraak is, sterkte toewens. “Ons kan hierdeur kom met almal se gebede, omgee en liefde.”. By Kleine Paradys in Piketberg was daar ook redelike oorstromings. Volgens die eienaar, Conrad Thiart, het hulle skade opgedoen, maar herstelwerk is aan die gang en hulle is oop vir besprekings.





