Vissers deel hul frustrasies, pyn en vooruitsigte op die lug en hoop dié bewusmaking sal tot daadwerklike verandering lei.
Hartklop van die visser word daagliks op Weskus 92.3fm uitgesaai. In die program bespreek vissers van Saldanhabaai tot Houston verskeie onderwerpe, wat met die kleinskaalse vissersektor te doen het. Die program dek alles van frustrasies met die voortslepende kleinskaalse vissersbeleid tot kommer oor die invloed wat die beplande Karpowership op hul lewensbestaan kan hê.
Volgens Pedro Garcia van die Suid-Afrikaanse Verenigde Vissersfront is bestaansvissers keelvol vir al die vele struikelblokke en hoop hulle deur hul ongelukkigheid te deel, sal die regering luister. Garcia sê Hartklop van die visser is ’n projek op voedsoolvlak.
Die groep agter die program is besig met projekte, insluitend regsaksie, om hopelik hul lewensbestaan te verbeter.
Intussen kan luisteraars daagliks om 09:00 en in die middag inskakel om van die vissers self te hoor.
John Cloete van Weskus 92.3fm meen die kennis wat die leek by dié vissers opdoen, is so omvattend en uiteenlopend dat hy die program die “universiteit van die vissers” noem.
Vissers wat die afgelope weke aan die program deelneem, skroom nie om prontuit oor sake in die sektor te praat nie.
Die program bestaan uit drie hooftemas en sluit die vissers se ervaring, die regsaspekte van die bedryf asook ’n gesprek van bestaans- en inheemse vissers in.
Francois Julies, bestuurder van Weskus 92.3fm, verduidelik die terugvoer van luisteraars oor die vissers se lot was enorm.
“Hoewel baie van ons [hier aan die Weskus] nie self in die visbedryf is nie, word ons almal op die een of ander manier daardeur geraak,” meen hy.
Julies sê luisteraars het gewis aanklank by die program gevind, maar daarbenewens het die program verskeie plaaslike maatskaplike euwels uitgelig.
Die span agter Hartklop van die visser meen dit is tyd dat die regering na vissers se eise luister en sy beleid daarvolgens vorm.



