Minister Barbara Creecy het Woensdag terugvoer gegee oor die proses om uiteindelik visvangregte aan kleinskaalse vissers uit te reik.
Creecy het tydens ’n digitale mediakonferensie gesê sy is trots om aan te kondig dat alle kleinskaalse vissers nou amptelik hul regte het.
Wes-Kaapse vissers in die kleinskaalse sektor wag sedert 2020 om hul volwaardige regte te ontvang nadat die plaaslike hooggeregshof beslis het die toekenningsproses van 2016 moet ter syde gestel word.
Die proses is toe in September 2022 opnuut begin, met die departement van omgewing, bosbou en visserye wat meer as 5 000 aansoeke ontvang het. In Maart vanjaar was 84% van die provinsie se kleinskaalse vissers reeds goedgekeur.
Onsuksesvolle vissers het toe kans gehad om teen hul uitsluiting te appelleer en 461 aansoeke is ontvang. Ná hersiening van die aansoeke het Creecy regte aan 431 van dié vissers toegeken.
Creecy verduidelik diegene wat steeds nie suksesvol was nie, kon nie genoegsame bewyse lewer dat hulle bona fide vissers is nie.
Vissers verbonde aan Masifundise en Coastal Links, organisasies wat vir vissersregte veg, kla reeds jare lank oor die sloer van die toekenningsproses wat deel van die departement se vissersbeleid is.
“Die kleinskaalse vissersbeleid is ontwikkel om te verseker dat die sektor ekonomies lewensvatbaar is vir kleinskaalse vissers en dat die departement ’n rol moet speel om vissersgemeenskappe by te staan ??en te bemagtig om sy eie bemarking en verwerking te ontwikkel om maksimum voordele uit mariene hulpbronne te kry,” het die organisasies luidens ’n verklaring gesê.
Die organisasies is ook ongelukkig oor die algehele toegelate vangste (TTV) wat aan die kleinskaalse vissers toe geken is.
In ’n gesamentlike verklaring het die vissersorganisasies van die sektor ’n beroep op die departement gedoen om aansienlik meer algehele toegelate vangste aan die kleinskaalse vissers toe te ken – veral kuslangs.
Hulle sê die TTV van kreef moet meer in pas wees met die kommersiële sektor, sodat kleinskaalse vissers tydens die 2023-’24 kreefseisoen ’n volhoubare inkomste kan maak.
Woensdag het Creecy haar nie veel uitgelaat oor die TTV van kreef nie, want volgens haar, weet sy daar sal teen die departement se besluit geappelleer word en as minister moet sy dié appèlproses hanteer. Sy het wel verduidelik die visvangregte is Dinsdag aan 62 visserskoöperasies in die provinsie, wat uit 3 850 vissers bestaan, toegeken.
Die regte geld vir 15 jaar.
Volgens die departement sal koöperasies gemeenskappe help om ondersteuning te hê om uiteindelik ekonomies volhoubaar te wees.
“’n Deel van die ondersteuning wat die departement sal bied, is 62 mentors wat die koöperasies sal help. Twee dae lange werksessies sal ook gehou word om te verseker deelnemers is toegerus met die nodige vaardighede en dat die koöperasies wettig is.”
Mentorskap sal vir drie jaar geld.
’n Deel van die werk sal wees om ’n “volhoubare” mandjie spesies te vestig.
“Ek glo die kleinskaalse sektor is ’n bona fide sektor en is geregtig op ’n volhoubare mandjie en ander rolspelers, soos die kommersiële sektor, moet dit aanvaar,” meen sy.




