Vissers het geen nut vir ’n stukkende mandjie nie.

Dit was die boodskap van die talle vissers wat Donderdag (12 Oktober) by Oppikaai in St. Helenabaai byeengekom het.

Vissers van Ocean View en van Houtbaai tot Elandsbaai het saamgedrom om hul ongelukkigheid oor verskillende kwessies in die sektor te bespreek. Hoewel kommersiële vissers ook in die groep was, was die meeste kleinskaalse vissers.

Die St. Helenabaai-vissersgemeenskapsforum was van die ongelukkiges. In hul verklaring verduidelik dié organisasie die departement van bosbou, visserye en omgewing se wetgewing rakende kleinskaalse vissers maak dit byna onmoontlik vir hulle om ’n bestaan te maak.

John Thompson, die skakelbeampte van die forum, verduidelik: “Booteienaars verskaf werk aan sê vyf vissers. As een van hulle nie opdaag nie, mag ’n ander visser nie op die bakkie geplaas word nie, want dié visser is nie op die amptelike lys wat aan die departement verskaf is nie.”

Cliffie Phillip, ’n booteienaar van St. Helenabaai, verduidelik hy kan ook nie eenvoudig net twee vissers alleen uitstuur nie. “Twee manne vang nie genoeg om die geld te dek wat ek moet uitgee om my boot op die water te hê nie. Dit dek nie eens my brandstof nie. Nou sit ek én die vissers sonder die dag se inkomste as gevolg van die departement se verordeninge. Om aansoek te doen om iemand anders op jou boot te hê, neem ’n week, en dan moet jy hoop jy kry terugvoer,” verduidelik hy.

Die toegelate lys spesies wat vissers mag vang, oftewel hul “mandjie”, soos die departement dit noem, was nog ’n kwelpunt vir die vissers. “Ons is nie teen die kleinskaal-vissersbeleid nie, nee. Dis nie hoekom ons hier is nie. Ons is ontevrede omdat die mandjie wat die departement vir ons gegee het, nie volhoubaar is nie,” het Gail Williams van Ocean View vertel.

Kleinskaalse vissers is met die toekenning van visvangregte deur die departement voorgeskryf wat hulle mag vang en wat nie. Talle vissers meen dié spesies wat die departement voorskryf, is belaglik.

Koöperasies was die ander groot kopseer vir vissers. Die departement se beleid vereis kleinskaalse vissers om deel van ’n koöperasie te word. Slegs een koöperasie per gemeenskap mag geskep word. Benewens die administratiewe take en kostes wat met die koöperasie gepaard gaan, is samewerking ook ’n probleem, meen gesoute vissers.

Beatrice Yong van Hangberg in Houtbaai sê hul koöperasie bestaan uit sowat 244 lede. Sy sê met so baie mense is dit nie moeilik om te verstaan hoekom sommige lede mekaar sommer wil moker nie. “Die departement meen eenvoudig ons moet saamwerk, en indien jy nie saamstem nie, moet jy nie deel wees nie, maar waar los dit die visser? Volgens hul eie voorskrifte móét ’n visser lid van ’n koöperasie wees om ’n volwaardige visser te wees,” verduidelik sy.

Neil de Beer, die leier van die United Independent Movement, het die groep raad gegee oor hul pad vorentoe om hul klagte by die regte orde te kry.

Sommige van diegene met wie Weslander gesels het, meen De Beer se fokus was effens te veel op politiek, maar meen indien hy en sy party kan help, sal hulle die hulp aanvaar. De Beer het beloof om regshulp vir die groep beskikbaar te stel om hul eise so gou as moontlik aan die departement te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article