Sondag 26 Mei; ses minute oor nege. Dit is die presiese oomblik wat Ronette Vraagom van Saldanha vir altyd sal onthou – toe sy gehoor het die see het haar vermiste visserman se lyk teruggegee.
Alfonso Vraagom (38) het Maandag 20 Mei saam met die res van die bemanning van die My Diamond-visserskuit oorboord geval nadat ’n fratsdeining die skuit omgedop het. Hulle het omstreeks 16:00 met ’n vangs van 70 snoeke na die St. Helenabaai-hawe terugge-keer en was sowat een seemyl van die kus by Shelley Point.
Jan Buitendag (53), die skipper van die skuit, se lyk het nog dieselfde middag uitgespoel nadat die Saldanhabaaiers Eaton van Kolver (51) en Lukas van Wyk (70) dit reggekry het om tot by die strand te swem. Daar was egter geen teken van Alfonso nie.
Met die nooddienste se aankoms het Eaton en Lukas aan hipotermie gely en hulle is behandel vir nie-noodlottige verdrinking-simptome. ’n Uitgebreide soektog na Alfonso is laataand afgelas.
Ronette het nog aan Weslander gesê dat sy nie hoop gaan opgee nie, maar met speursers. Joan Lakay se oproep Sondag om haar in te lig dat die lyk van ’n man op die strand by Shelley Point uitgespoel het, was alle hoop verlore.
Ronette het nog met haar broer, Rodney September, gepraat toe haar foon gepiep het. Sy het afgelui en gesien iemand het haar van ’n onbekende nommer af gebel en sy het ’n WhatsApp-boodskap van die ondersoekbeampte in die saak ontvang.
Sy hou see daagliks dop
Die speurder het weer gebel en die nuus van die lyk oorgedra en gesê hulle is nie seker wie dit was wat uitgespoel het nie.
Lakay het ’n bietjie later laat weet sy is op pad na Ronette toe. Sy moes bevestig watter klere en skoene Alfonso die oggend aangetrek het werk toe. Die klere het bevestig dat dit hy was wat uitgespoel het.
’n Inwoner van Shelley Point, ene Adele, het die oggend op die lyk afgekom. Sy het tydens ’n kranslegging, wat Sondag 2 Junie vir Alfonso op dié einste stuk strand gehou is, aan Ronette gesê sy het die see sedert die voorval elke dag dopgehou.
Ronette meen dit is ’n wonderwerk van die Here dat die inwoner Alfonso in die water gesien het, want net sy gesig het uitgesteek.
Ronette het die swaar taak gehad om Alfonso Vrydag 31 Mei amptelik te gaan uitken. Hulle was 13 jaar getroud en het vier kinders, Alonzo (13), Rowaylon (9) en die tweeling, Aleeya (2) en Alicia (2). Die kinders vra gedurig na hul pa. “As ’n ryding verbykom sê hulle: ‘Daar kom Pappie’, of ‘Pappie gaan nou inkom’.”
Sy sal altyd wonder presies wat gebeur het, want Alfonso was ’n baie goeie swemmer wat die see geken het. Die see was Alfonso se lewe, het sy vroeër gesê.
“Die afgelope vyf jaar was dit elke dag my vrees dat hy nie die gewone tyd by die deur gaan instap nie.” As sy bekommerd geraak en rondgebel het, sou hy altyd lekker gelag het daaroor.
‘hy’t altyd ’n storie gehad’
“Dit bly baie hartseer. Ek moet maar sterk staan. By tye is ek oukei en ander tye bars ek net in trane uit en sê vir myself ek kan nie meer nie.”
Ronette sal ook nou moet uitspring en vir die gesin sorg, want Alfonso was die broodwinner. Hy het altyd bankvas agter haar gestaan en raakgevat waarby sy nie kon uitkom nie. Sy sal onthou hoe hy haar altyd geterg het. “Hy’t presies geweet watter knoppies om te druk om my kwaad te maak en dan lag hy lekker as ek skel.”
Alfonso het ook graag stories oor sy kinderdae vertel. “Hy was my skindermaatjie. Hy het altyd ’n storie gehad om te kom vertel as hy uit die werk uit kom.”
Die egpaar het 14 jaar gelede deur gemeenskaplike vriende op Mxit ontmoet. Wat Ronette tot hom aangetrek het, was sy reguit manier. “Hy was ’n straight forward mens.”
Die gesin se katjie is ook die dag ná die doodstyding dood, waarop Alonzo aan haar gesê het hulle sit nou nie net sonder ’n pappie nie, maar ook sonder ’n kat.
Ronette dink nie die kinders besef heeltemal dat Alfonso nie meer daar is nie. “Ek dink dit sal met die begrafnis eers insink.”
Alfonso se familie bly steeds in Saldanha.
. ’n Begrafnisdiens word Saterdag (8 Junie) by Basil Februarystraat 121 gehou.





