Die begin van die 2026-visseisoen is die afgelope Sondag (11 Januarie) op ‘n besondere wyse ingelui toe die gemeenskap en Weskus-vissermanne by die Laaiplek-hawe vir die jaarlikse interkerklike hawediens saamgekom het.
Die diens is gelei deur ds. Toni Masent van die Verenigende Gereformeerde kerk (VGK) St. Helenabaai en het gefokus op die tema “Kyk vorentoe; die Here is die hoop in die golwe”. Die hawediens is ‘n gevestigde instelling wat jaarliks aan die begin van die visseisoen aangebied word. Dit word gesamentlik deur vyf kerke in die Weskus gereël – spesifiek om vir vissermanne te bid en hulle vir die seisoen wat voorlê, te seën.
Masent het die diens geopen met skrif- lesing uit Psalm 24:1 en 2 en het beklemtoon dat die see, die vis en die seisoene uiteindelik aan die Here behoort. Hy het gesê dat vissermanne aan die begin van die seisoen met hoop en verwagting by die water staan, maar ook met ‘n diepe afhanklikheid van dit wat hulle nie kan beheer nie.
“Die visserman besaai nie die see nie en maak nie die vis nie; hy vertrou op God se orde in die skepping,” het Masent gesê.
Volgens hom is die begin van die seisoen ‘n oomblik van nederigheid en geloof, met die wete dat voorsiening, sukses en veiligheid in die Here se hande rus. Hy het verder uit Prediker 1:7 gelees en verduidelik, al herhaal die lewe homself en verander omstandighede, bly God se hand steeds aan die werk.
“Die golwe kom en gaan, maar die Here bly die bron van hoop,” het hy gesê.
Masent het ook verwys na uitdagings soos rooigety en onseker toestande en beklemtoon dat vissermanne steeds met geloof en vertroue moet uitvaar, met die Here as hul hoop in die golwe.
In ‘n simboliese boodskap het hy die gemeente gevra om te dink oor wat hulle in 2025 uit hul “boot van die lewe” afgelaai het en wat hulle in 2026 gaan oplaai. “Wanhoop, twyfel, negatiewe denke en jaloesie moet ons aflaai. Vertroue op God, geloof, gebed en hoop is wat ons moet oplaai,” het hy gesê.
Die diens is afgesluit met Spreuke 4:25 tot 27, waarin die oproep is om vorentoe te kyk en koers te hou. Masent het gesê soos ‘n skipper sy oë op die horison hou, word vissermanne herinner om nie deur vrees of die onstuimigheid van die see afgetrek te word nie, maar om met geloof op God se leiding gefokus te bly.
Aan die einde van die diens is alle vissermanne genooi om vorentoe te kom. Daar is spesiaal vir hulle gebid en elkeen het ‘n pakkie ontvang met ‘n gebreide serp en mussie, wat deur Tina Hakkesteeg en haar breigroep Brei Sonder Grense gemaak is, ‘n tasbare teken van omgee en ondersteuning vir die seisoen wat voorlê.






