’n Werker van Amawandle is beseer nadat iets met een van die masjiene by die Bergrivier-aanleg fout gegaan het.
Volgens Tiana Fataar van die Oceana-groep, die eienaar van Amawandle, is ’n werker Sondagoggend weens ’n fout met die vismeel-droër beseer.
Sy sê hoewel die beserings nie ernstig was nie, is die werker vir veiligheid na die hospitaal geneem. Hy is oornag vir waarneming gehou.
“Ons is in kontak met sy familie en sal enige ondersteuning bied indien dit nodig sal wees. ’n Ondersoek na wat gebeur het, is van stapel gestuur,” het sy Woensdag bevestig.
Dié jongste voorval volg op ’n brand wat in Februarie by dieselfde Laaiplek-aanleg uitgebreek het.
Destyds het die plaaslike polisie bevestig toerusting op die perseel het aan die brand geraak.
Niemand is in daardie voorval beseer nie.




