Nossab se sokkerspan en Wild Caught Seafoods het in die eindronde meegeding. Foto’s: Noluvu Ludidi

Die jaarlikse Visfabrieketoernooi was weer ‘n hoogtepunt.

Dié groot sportgeleentheid het op Vrydag 24 en Saterdag 25 Oktober op die Smit-sportterein in Velddrif plaasgevind. Dit was met omtrent 5 000 mense wat dit bygewoon het, “een vir die boeke”.

Volgens Kobus Vergotine, die toernooi-organiseerder, het goeie sportmangees van die begin tot die einde van die toernooi geheers, terwyl goeie dissipline aan die orde van die dag was.

Vergotine sê hulle het groot planne vir die jare wat kom – veral vir die 40ste bestaansjaar.

Jacques Basson, die wedstrydsekretaris van die Visfabrieke-sokkertoernooi, sê honderde toeskouers en spanne het saamgedrom om die openingswedstryde van die sokker by te woon.

“Spanne was netjies geklee in hul uitrustings en was lus vir twee dae se spel. Daar was geen ernstige beserings nie, en daarvoor moet ons vir die Hemelse Vader dankie sê.”

Basson sê gehalte sokker is gespeel, waarin spanne mekaar al vroeg getoets het. “Die hoogtepunte van die twee dae se skouspel was spanne wat tot in die kwarteindstryd, die halfeindstryd en die eindstryd gevorder het. Volgende jaar verwag ons sterker mededinging.”

Basson sê nuwe spanne het reeds aangedui hulle wil deel in 2026 deel van dié jaarlikse skouspel wees.

Volgens Marieta Coetzee, die Suid-Afrikaanse Visfabrieke se netbalverteenwoordiger, het die netbaltoernooi baie goed verloop. Dit was vir haar wonderlik om te sien hoe elke jaar nuwe vriende gemaak word en die netbal-familie groei.

Coetzee sê die toernooi is met skrifle-

sing en gebed geopen en verrigtinge het met musiek en danspassies begin. “Ons het vanjaar ‘n ekstra afdeling vir ‘n proeflopie ingebring waarin gemengde spanne van mans en vroue saamgespeel het. Dit het baie aandag geniet en was verbasend ‘n baie groot aantrekking. Ons sal dit gewis volgende jaar weer doen, met meer spanne.”

Coezee sê 18 spanne het deelgeneem en sy sien uit na nóg spanne wat volgende jaar gaan deelneem.

Die wenners in die rugby-, netbal- en sokkertoernooie is as volg:

Rugby: Coastal Links (wenner), Amawandle (naaswenner) en West Point Processors (derde).

Netbal: A-afdeling: West Point Processors A (wenner) en Selecta Sea A (naas-

wenner). B-afdeling: Survivors A (wenner) en Noordbaai A (naaswenner).

Gemengde afdeling: St. Helenabaai (wenner) en Malmesbury (naaswenner)

Sokker: A-veld: Wild Caught Seafood (wenner) en Selecta (naaswenner), B-veld: Hoofdt Trading (wenner) en Sea Vuna (naaswenner).

Die danspassie wenners saam met akteur Cedwyn Joel.
Die top-10-netbalspelers van die netbaltoernooi wys hul sertifikate trots en breë glimlagte.
‘n Rugbyspeler van Pioneer Fishing bars deur die verdediging van Coastal Links. Foto: Noluvu Ludidi
Selecta teen Blue Ocean Mussels in die netbalstryd. Foto: Noluvu Ludidi
Amawandle A se doelskieter mik vir die netbal-doelpaal. Foto: Noluvu Ludidi
Dit was ‘n goeie wedstryd tussen Pioneer Fishing en Xstinct Trading. Fotot: Noluvu Ludidi
Toeskouers tydens die rugbywedstryd. Foto: Noluvu Ludidi
‘n Pragtige drie word deur Coastal Links aangeteken. Foto: Noluvu Ludidi
Jacques Basson, die wedstrydsekretaris van die Visfabrieke-sokkertoernooi, en Hilton Carolus. Foto: Noluvu Ludidi
Charlton Nieuwoudt (links) van Chillos MC Production was die seremoniemeester vir die hele toernooi en regs is Melany Rivida van Bergrivier-munisipaliteit. Foto: Noluvu Ludidi

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article