Die organiseerders van die sokker-afdeling van die jaarlikse Visfabrieke-toernooi het Vrydag hul borgskap ontvang. Wayne Jarman (Nampak), Jacques Basson en (voor) Dirk Cockrell, Regen Adams en André de Jager (Nampak) het die oorhandiging bygewoon. Foto: Yaël Malgas


Die 25ste aflewering van die Visfabrieke-toernooi is terug ná twee jaar.

Die gewilde rugby-, netbal- en sokkertoernooi het soos vele ander sportbyeenkomste weens die covid-pandemie in 2019 laas plaasgevind.

Nampak DivFood borg vanjaar weer die sokker vir die sportbyeenkoms wat tussen 28 en 29 Oktober by die Smit-sportterrein in Velddrif plaasvind.

Volgens Regen Adams, een van die sokker-organiseerders, is dit wonderlik om die toernooi ná twee jaar terug te hê.

Adams sê hulle is veral bly hul getroue borg is weer aan boord om die geleentheid moontlik te maak.

“Ons het destyds, in 1992, met 32 sokkerspanne begin, maar namate die visfabrieke uitgesterf het, het die deelname afgeneem. Vanjaar het ons 19 spanne en ons is opgewonde om dié spanne te verwelkom. Dit sal gewis goeie spel oplewer,” meen die organiseerder.

Adams en lede van die bestuur was Vrydag byderhand vir die seremoniële tjek-oorhandiging van die borge om die R75 000 in ontvangs te neem.

André de Jager van Nampak sê die onderneming is trots om dekades later steeds die amptelike borg van die sokker-toernooi te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article