Swaar rookwolke het oor die Amawandle-visfabriek gehang nadat ’n brand by die fabriek uitgebreek het.


’n Brand, wat Donderdag (16 Februarie) by die Amawandle Pelagic-visfabriek in Laaiplek uitgebreek het, is vinnig in bedwang gebring.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het bedryfstoerusting by die fabriek vlamgevat.

Naburige inwoners het ’n sterk brandreuk geruik en die swaar rookwolke oor die fabriek sien hang. Mense wat daar verbygery het, het die personeel buite die perseel gesien nadat hulle die plek ontruim het. Die brand is egter gou onder beheer gebring.

Tiana Fataar, ’n woordvoerder van die Oceana-groep, die eienaar van Amawandle, het aan Weslander bevestig niemand is in die voorval beseer nie.

Volgens Fataar was dit vismeel wat vlamgevat en die brand veroorsaak het.

“ ’n Klein brand het Donderdag omstreeks 10:00 uitgebreek nadat vismeel spontaan vlamgevat het. Die hoogsopgeleide brandweerspan by die aanleg het ingespring om die brand vinnig onder beheer te bring,” het sy verduidelik.

Ingevolge standaardpraktyk in die geval van ’n brand is die plaaslike brandweer “as ’n voorsorgmaatreël” ontplooi.

Dit is nog nie bekend wat die aard van die skade aan die fabriek se toerusting weens die brand is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article