Ek onthou nog hoe ons in Julie 1985 vasgenael voor die TV na die eindstryd van die Wimbledon-tennistoernooi gesit en kyk het. Die Suid-Afrikaanse boorling Kevin Curren het teen die 17-jarige Duitser Boris Becker gespeel. Ten spyte van Curren se ongelooflike kishoue, was dit Becker se jeugdige ratsheid wat hom uiteindelik die oorwinning besorg het.
Vir ons as Suid-Afrikaners was dit ’n bitter pil om te sluk dat so ’n japsnoet ons held in vier stelle kon uitoorlê. In daardie stadium was Boris Becker die jongste mansenkelspelspeler om ooit ’n Grand Slam-toernooi te wen.
Boris Becker se wen in 1985 was nie maar net ’n blote gelukskoot nie. Die volgende jaar het hy sy titel suksesvol teen die wêreld se nommereen-speler, Ivan Lendl, verdedig. Uiteindelik het hy ses Grand Slam-toernooie gewen waarvan drie die Wimbledon-titel was, asook in 1992 ’n Olimpiese goue medalje in Barcelona.
Hy het altesaam sewe keer in Wimbledon eindstryde gespeel en is in 1989 as die wêreld se speler van die jaar bekroon. In 1987 het hy ’n rekordlengte- wedstryd van 6 uur en 22 minute teen John McEnroe gewen en uiteindelik in 1999 as speler uitgetree. Later was hy drie jaar lank die huidige wêreld- nommereen-speler, Novak Djokovic, se afrigter en in 2003 is hy vereer deur opgeneem te word in die International Tennis Hall of Fame.
Wat ’n ongelooflike CV en rolmodel. Ongelukkig is dit nie die einde van sy CV nie. Ons het onlangs in die nuus verneem dat einste Becker op 54 jaar vir 2½ jaar tronk toe gestuur is weens insolvensiebedrog.
’n Vriend saam met wie ek al kursusse aangebied het, het eenmaal gesê hy glo dit is beter om mense wat reeds oorlede is, as helde voor te hou. Hoekom? Aangesien ons reeds weet hoe hul lewe geëindig het, is dit onwaarskynlik dat ons vertroue in hulle later geknou sal word.
Aan die een kant wil ’n mens wonder hoe dit moontlik is dat ’n man wat meer as $25 miljoen prysgeld en ’n totale inkomste van $130 miljoen (borgskappe ingesluit) uit tennis verdien het, in finansiële moeilikheid kan beland. Aan die ander kant is dit tragies om te sien hoe dié goue seun van tennis so ver geval het.
Het Boris Becker se sukses dalk vir hom te veel roem op ’n bloedjong ouderdom gebring? Sewentien jaar oud en die miljoene stroom in; enorme bedrae prysgeld en groot sportmaatskappye wat toustaan omdat hulle jou graag in hul handelsmerk- klere wil sien deelneem.
Dit is vir elke ouer wonderlik as jou spruit op ’n jong ouderdom al uitsonderlik presteer, hetsy dit op akademiese, kultuur of sportgebied is. In vandag se mededingende wêreld is dit vir enige ouer ’n riem onder die hart as jou telg hom- of haarself uitsonderlik kan onderskei.
Ek onthou egter ook die jare toe ek as hoërskoolonderwyser die skool se atletiekorganiseerder was. Een van my verantwoordelikhede was om die sterkste atletiekspan moontlik vir interskolekompetisies in te skryf. Dan kom daar gr. 8-leerders in wat al in die laerskool provinsiale kleure in drie atletieknommers behaal het, maar nou nie verder wil deelneem nie, want “ek het reeds provinsiale kleure gekry en is nie lus vir die hard oefen net om dit weer te kry nie”. So gaan van ons talentvolste atlete dikwels vir sport verlore.
Wanneer jy jonk is, soos in Becker se geval met sy eerste Wimbeldon-toernooi, het jy niks om te verloor nie. Nadat hy egter die titel gewen het, was die druk vierkantig op sy skouers, want toe verwag almal van hom om dit weer te doen en die nuusmedia laat so iemand nie met rus nie. Kan ’n mens van ’n tiener verwag om sulke groot roem en druk te verwerk en ongeskonde en nederig anderkant uit te kom?
Groot roem, so word gesê, bring meer mense tot ’n val as swaarkry.
Goeie karakter is net so belangrik soos goeie prestasie. In skole en by ons werkplekke word baie klem op prestasie gelê, maar uitsonderlike prestasies sonder ’n sterk karakter lei maklik tot hoogmoed. En hoogmoed, sê die Bybel, kom tot ’n val.
.
David Malherbe is ’n vryskutskrywer van Langebaan.





