Planne om die omstrede vingerhoedhuisie in Saldanha te ontwikkel, toon steeds geen vordering nie.
Volgens die eienaar, Louis de Wet, wag hy nog op goedkeuring van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM). Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die SBM, sê bouplanne is wel in Januarie 2023 ontvang, maar ’n onderverdelingsaansoek by Stadsbeplanning is nog van toepassing of uitstaande.
“Bouplanne vir die voorgestelde ontwikkeling van woonstelle is in hierdie stadium nog nie goedgekeur nie, dus is geen reël van toepassing ten opsigte van tydlyne nie.”
Die vingerhoedhuisie, op die hoek van Kamp- en Manitokastraat, Saldanha, was al die jare ’n bekende baken in die dorp. Verskeie klagtes dat die aansig van die huis ’n seer oog in die gemeenskap geword het, is al lank bekend. Volgens Lawrence het die SBM geen mandaat om private eiendomme te dwing om enige opgraderings te doen sou ’n gebou geen tekens toon dat dit bouvallig of gevaarlik is nie.
LEES MEER | ‘Vingerhoedhuisie’ se dae getel
Volgens De Wet was hy verlede jaar gereed om te begin bou en het hy reeds toestemming van die Erfeniskomitee gekry om te begin sloop, onderworpe aan ’n appèlperiode. Hy beoog om drie woonstelblokke te bou. De Wet sê ná die derde appèlproses en die tribunaalsitting is vasgestel die fasade van die gebou moet bewaar word, hoewel die res gesloop kan word tot eenvertrekdiepte toe.
Hy hoop om gou terugvoer van die SBM te ontvang.





