Die Bergrivier-munisipaliteit, in samewerking met die Bergrivier-sportforum en die departement van sport en kultuur (DCAS), het ’n suksesvolle Burgemeesterstoernooi op Paassaterdag (30 Maart) by Rhinopark in Piketberg aangebied.

Rugby is tussen die 10 klubs in die Bergrivier-streek gespeel, met die temperatuur by tye 40 °C. Nogtans het die dag uitstekende rugby opgelewer.

Die kompetisie word jaarliks oor Paasfees vir alle rugbyklubs in Bergrivier aangebied. Die toernooi word in Grootuitdaag- en streekuitdaag-klubs ingedeel.

Volgens Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, is die doel van die toernooi om in sport terug te ploeg. Van Rooy sê sport is een van die grootste brugbouers in gemeenskappe.

“Klubs kry ook finansieel swaar en kan uit die prysgeld op die spel voordeel trek. Die wenprys was R8 000 vir beide afdelings en die naaswenners kry R4 000 elk, maar elke klub het voordeel getrek.

“Toeskouers het in groot getalle opgedaag om hul klubs in die hitte te ondersteun,” sê Van Rooy.

Aan die einde van die dag het die Zebras van Piket Bo-berg die streekuitdaag-afdeling gewen. Hulle het Black Tigers van Moutonshoek 22-6 gewen.

Villagers van Wittewater het Rhinos van Piketberg 13-8 in die Grootuitdaag-afdeling geklop.

’n Bergrivierspan is gekies, wat in Oktober aan die SA Visfabriek-toernooi in Velddrif sal deelneem.

“Ons wil alle klubs, borge, toeskouers, skeidsregters, baljoggies, hekbeamptes, munisipale beamptes en sekuriteitslede namens die organiseerders hartlik bedank vir hul bydrae tot die sukses van die toernooi. Volgende jaar op Paasfees is ons met groter prysgeld terug op Rhinopark.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article