Twee familielede wat deur ‘n ouerpaar van Vredenburg toegelaat is om hul drie minderjarige dogters seksueel te misbruik, is albei nou ook in hegtenis.

Die twee mans van onderskeidelik 35 en 53 jaar oud het Dinsdag 1 April vir ‘n tweede keer saam met die egpaar in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Die 44-jarige man en sy 35-jarige vrou staan tereg op aanklagte van kindermishandeling en die feit dat hulle nie die verkragting en seksuele aanranding van hul kinders by die polisie aangegee het nie.

Hulle is in Augustus 2024 in hegtenis geneem en het in September borgtog van R1 000 elk gekry – met streng voorwaardes, soos dat hulle uitsluitlik net vir hul hofverskynings in Vredenburg mag kom.

Die drie dogters was almal ten tyde van die misdrywe jonger as 15 jaar oud.

Die staat dui aan dat die kinders oor jare aangerand, verkrag en seksueel aangerand is – vermoedelik deur die twee familielede.

Die ouers het dit nooit aangemeld of iets gedoen om dit te keer nie.

Luidens die klagstaat het die pa na bewering die kinders boonop met sy vuiste, ‘n hokkiestok en sy veiligheidstewels aangerand en hulle aan die hare getrek. Die kinders se ma het hulle na

bewering met ‘n gordel, ‘n besem of die veiligheidstewels geslaan en hulle gewurg.

Die egpaar moet drie keer per week by ‘n aangewese polisiekantoor aanmeld en is verbied om op enige manier

met die kinders in verbinding te probeer tree – veral nie deur direkte teksboodskappe nie.

Die Vredenburg-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe hanteer die ondersoek en die kinders word in ‘n plek van veiligheid versorg.

Die beskuldigdes het nog nie gepleit nie en die kinders moet nog met die staatsaanklaer konsulteer voordat die saak na verwagting na die streekhof oorgeplaas gaan word.

Die saak is tot 12 Mei uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article