Die akteurs Ashley Riddles, Gretchen Ramsden, Hildegardt White en William Adams.Foto:


Vier Vredenburgers is te sien in kykNET&kie se nuwe telenovelle Skermgrond en verteenwoordig die Weskus behoorlik.

Die bekende gesigte van die akteurs William Adams, Gretchen Ramsden, Hildegardt White en Ashley Riddles se wortels lê almal in Vredenburg en hulle is trots op waar hulle vandaan kom.

Ramsden, wat die rol van Patty Paulsen vertolk en die nuwe sjef van die dorp se hotel is, vertel Patty is iemand wat na Gemoedsdrif toe gekom het met die hoop op ’n nuwe begin – sy is op soek na iets anders as haar verlede. Ramsden voel geëerd om die skerm met soveel talentvolle akteurs te deel. “Dis altyd ’n belewenis om iemand te ontmoet wat ek gereeld op televisie gesien het toe ek klein was. En ek is so trots op ons Vredenburg-akteurs. Ek het al van dag een af by die werk gespog ons is van Vredenburg.”

Adams, wat die rol van Louis vertolk, deel met Weslander dat sy karakter ’n introvert is wat nie veel van die buitelewe ken nie. “Hy ken net die plaas en is baie lief daarvoor om op die plaas te werk. Hoewel Adams nie self van die stad kom nie, ken hy die stad goed en is hy self meer ’n ekstrovert as sy karakter.

Vir baie Weskus-inwoners is dit ’n inspirasie om mense van hul eie dorp op die televisie te sien. Volgens Adams kry hy baie inwoners van die dorp in Kaapstad wat hom altyd herinner dat jong mense opkyk na hom. “Dit maak my hart bly en gee my meer rede om myself te bewys deur hard te werk sodat hulle kan sien als is moontlik. As ek dit kan regkry, dan kan hulle ook.”

Vir Riddles, wat die rol van Shakiel vertolk, is dit ’n groot eer om nie net Vredenburg te verteenwoordig nie, maar wel die hele Weskus. “Veral die dorpe waar ek grootgeword het, soos Saldanha, Langebaanweg-lugmagbasis en Vredenburg. Ek het eintlik besef wat ek eendag wil word, en dis nie ’n akteur nie – ek wil net die rede wees dat jongmense in hul drome glo; ’n voorbeeld wees dat alles moontlik is deur God wat ons die krag gee,” vertel Riddles.

“Dit voel steeds soos ’n droom om tussen al die akteurs te wees. Ek het geweet dat Hildegardt en Gretchen ook op die program gaan wees en dis vir my ’n groot eer om saam met Hildegardt te werk nadat sy een van my gunsteling­akteurs in 7de Laan was,” voeg Riddles by.

White, wat die rol van Lilly Louw speel, of “die lekker Lilly Louw”, soos sy dit stel, leef haar uit in die karakter. White beskryf Lilly as avontuur­lustig, ’n dromer en ’n reisiger; die een wat dinge ’n bietjie kom ruk in Gemoedsdrif. White het altyd daaraan gedink om terug Kaap toe te trek, en ná 13 jaar in 7de Laan as Bonita het alles gebeur soos dit moet. “Dit is wonderlik om te sien dat daar nog akteurs en mense in die bedryf is wat uit die ’Burg kom. Dit is fantasties en stunning om saam met hulle te werk; hulle is almal so talentvol. En natuurlik gaan mense my meer in die Weskus sien,” vertel White. Weskussers kan sowaar trots wees op al die plaaslike talent wat hulle produseer.. Skemergrond speel af in Gemoedsdrif, ’n klein dorpie in die Wes-Kaap, en draai om die Louw-familie en hul pragtige blomplaas. Ons maak kennis met die inwoners van Gemoedsdrif en die plase in die onmiddellike omgewing, wanneer die aflewering van ’n brief tot groot spanning en gebeure lei wat die lewe van die Louw-familie onherroeplik gaan verander.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article