’n Nuwe intrekker by die Pelgrimsrust-kleinhoewes voor Paternoster is gewelddadig uit haar idilliese droom van ’n “rustige” Weskus geruk nadat rowers haar oorval, aangehou en byna verwurg het.
Vier verdagtes, wat moontlik met dié aanval verbind kan word, is volgens kol. Lindie Marx, bevelvoerder van die Vredenburg-polisie, dieselfde aand nog naby Elandsbaai met die 63-jarige vrou se gesteelde motor en ander gesteelde eiendom aangekeer.
Die huisrooftog het omstreeks 14:00 in Seemeeu-singel plaasgevind.
Sy was glo volgens inwoners in haar tuin besig toe een van die aanvallers haar aandag getrek het deur eers voor te gee dat hy na iemand soek.
Sy het glo gesê sy is nuut in die omgewing en hy moet by die OK Minimark gaan vra. Hy het hierna vir ’n bietjie water gevra en sy het die kraan aan hom uitgewys.
Die slagoffer, wat tot onlangs in Kleinmond gewoon het, was onder die indruk dat dié man geloop het, maar die volgende oomblik het hy en nog aanvallers haar in die huis oorrompel en vasgebind.
Die rowers het deur ’n venster toegang tot die huis gekry. Nadat hulle haar probeer verwurg het, het hulle in haar motor, ’n groen Daewoo-luikrug, op die vlug geslaan. Hulle het onder meer juwele en selfone gebuit.
Die slagoffer, wat onlangs by die kleinhoewe ingetrek het, het haar met ’n gesukkel losgewikkel en by haar bure om hulp gaan aanklop.
Die motor met vier insittendes is met behulp van die buurtwag op Redelinghuys, die SSTF Spesiale Sekuriteitstaakmag en die Elandsbaaise polisie vasgestrek.
Verskeie gesteelde items was nog in die motor, maar volgens Marx nie alles nie.
Hoewel hulle nog nie vir die aanval op die bejaarde vrou aangekla is nie, het Kyle Jansen, Remano Coenrad en Grant Penels van Paternoster sowel as Peter Booysen van Vredenburg reeds in die landdroshof op Piketberg op aanklagte van die besit van gesteelde eiendom verskyn.
Die polisie sê die vier verdagtes sal na verwagting binnekort ook in die Vredenburg-landdroshof verskyn op ’n aanklag wat verband hou met die gewelddadige roof en aanranding van die bejaarde slagoffer.




