Links: ’n Motor het Dinsdagaand op sy dak by die Jacobsbaai-kruising belang nadat die bestuurder glo deur ’n poel water gery en beheer verloor het.Foto:


Gure weer en ’n vermeende dronkbestuurder is maar twee van die oorsake van die afgelope week se verskeie ernstige en minder ernstige botsings aan die Weskus.

Die botsings in die betrokke tydperk (8 tot 14 Junie) wissel van noodlottig van aard tot voorvalle waarin geen beserings aangemeld is nie.

Verskeie botsings

Die week het verlede Woensdag 8 Junie met die tragiese dood van ’n fietsryer op die R399 begin.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is ’n saak van strafbare manslag geopen nadat die fietsryer tussen die St. Helenabaai-afdraai en Velddrif verongeluk het.

Na bewering het die fietsryer geval toe ’n vragmotor hom verbygesteek het.

Vrydag het ’n botsing by die berugte Weskus Mall-oorgang in Saldanhaweg plaasgevind waar gereeld ongelukke gebeur en daardie aand het die berugte Jacobsbaai-aansluiting op dieselfde pad die lewe van ’n vrou geëis.

Dié botsing het ook verskeie motoriste en ’n baba met ernstige beserings in die hospitaal laat beland.

Saterdag 11 Junie het die West Coast Medical Rescue-nooddiens oor ’n botsing reg van voor op die R27 (Weskus-pad) naby die Weskus Nasionale Park op sy Facebookblad gerapporteer. ’n Voertuig het ’n motor getref wat ’n boot op ’n sleepwa gesleep het. Volgens West Coast Medical Rescue was een pasiënt in ’n voertuig vasgekeer en is deur die Metro EMS Rescue se span uit die wrak bevry. Die pasiënt is in ’n ernstige maar stabiele toestand na die hospitaal geneem.

Die volgende dag, Sondag 12 Junie, het nog ’n botsing reg van voor op die R27 plaasgevind.

In die vroeë oggendure het twee mense hul lewe op die pad tussen Paternoster en Vreden­burg verloor.

Kapt. Helfrich sê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n Toyota Corolla om 03:30 op die Pater­nosterpad onklaar geraak en ’n ander motor van agter in die Corolla vasgery het.

Volgens Helfrich was daar vyf insittendes in die Toyota Corolla. Drie het uitgeklim om ondersoek na die probleem in te stel. Hulle het voor die motor gestaan toe die ander motor die Corolla van agter tref. Die twee mense in die motor is op die toneel dood verklaar en twee van die drie mense wat buite die motor was ten tyde van die botsing het mediese behandeling ontvang.

Helfrich sê ’n man (26) is vandeesweek vir dronkbestuur in hegtenis geneem en dit hou moontlik verband met Sondagoggend se noodlottige botsing en die strafbare manslag-saak wat deur die polisie ondersoek word.

Des Paton, die Weskus se verkeershoof vir die provinsiale verkeersdiens, waarsku drinkers dat hulle nie lig daarvan gaan afkom as hulle vir dronkbestuur aangekeer word nie.

Swaar reën

Maandag en Dinsdagaand het die gebied swaar reënbuie ervaar wat tot nog botsings gelei het.

Maandagaand 13 Junie het ’n botsing by die Saldanha-sirkel in gure weersomstandighede plaasgevind. Niemand is in die ongeluk beseer nie. West Coast Medical Rescue wat ook op die toneel was, waarsku bestuurders om hierdie winter versigtig in reënweer te bestuur.

Die volgende aand, 14 Junie, het ’n bestuurder beheer verloor nadat ’n voertuig deur ’n poel reënwater gery het. Die motor het op sy dak in die veld beland. Die bestuurder het genadiglik geen beserings opgedoen nie.

Thereza Burger, ’n woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), het aan Weslander gesê die gebied het op 13 en 14 Junie aanhoudende reënval ervaar met slegs sporadiese gevalle van oorstromings wat waargeneem is deur SBM se brandweerpersoneel wat noodsaaklike patrollies gedoen het.

Bestuur veilig in nat weer

Die provinsiale verkeersdepartement vra motoriste om liefs altyd hul hoofligte aan te skakel wanneer dit reën of sigbaarheid weens mistigheid swak is.

Verminder jou spoed in nat weer en vergroot die afstand tussen jou voertuig en die voertuig voor jou.

Dit kan moeilik wees om deur nat syvensters en kantspieëls te sien. Wees bewus van ander voertuie in jou blindekolle.

Pasop vir oliekolle in die reën wat die pad gladder maak. Moenie paniekerig raak nie. Moenie skielik rem nie.

Beweeg net na die noodbaan as jy minstens 150 m voor jou duidelik kan sien.

Hou in gedagte dat voetgangers en fietsryers ook hierdie baan kan gebruik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article