Die ongelukstoneel net voor 07:00 Vrydagoggend op die R399.

West Coast Medical Rescue

Vier mense is dood en sewe is in ’n kritieke toestand in die Vredenburg-staatshospitaal nadat die bakkie waarin hulle vanoggend (Vrydag 8 September) net voor 07:00 op die Vredenburg-Velddrif-pad (R399) onderweg was, gerol het. Nog vier mense word vir gebreekte arms en bene en ander beserings behandel.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die ongeluk bevestig en gesê dat die bakkie, ’n blou Toyota Hilux, se band vermoedelik gebars het, waarna dit gerol het.

botsing

Die gebarste band van die bakkie.

Die bakkie, wat glo aan ’n kontrakteur van ’n konstruksiemaatskappy in St Helenabaai behoort, het vyftien werkers vervoer; die meeste van hulle agterop in die kajuitkappie.

Verskeie ambulansdienste is ingespan om die beseerdes na die Vredenburg-staatshospitaal te neem, waar twee van die pasiënte om hul lewens veg.

Geregsamptenare het die pad van voor die Weskusmark (ou Fruit & Veg) in Velddrifweg af tot by die St Helenabaai-kruising gesluit vir die forensiese span van die Kaap om die toneel te fynkam. Die pad is teen 12:15 weer oopgestel vir verkeer nadat dit vir ‘n groot gedeelte van die oggend gesluit was.

Slegs een van die oorledenes kon intussen geïdentifiseer word. ’n Klag van strafbare manslag word ondersoek. Van wat verneem word, is die bestuurder in die hospitaal opgeneem.

  • Dit is ’n ontwikkelende storie en inligting sal bygewerk word, soos wat dit beskikbaar raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article