Nee kyk, mense, ons het vir jou ’n lekker nat winter gehad. Oral waar ek deesdae loop, sien ek die damme is vol, die wingerdplantasies het uit hul winterslaap ontwaak en jy kan sien hoe die volgende parsseisoen se bloeisels fluks die kop begin uitsteek – wat ’n fees vir die oog!

Het ek enigsins gekla oor die winter wat hierdie jaar so bitter koud en nat was? Nog nooit gesien nie, want dis dan my gunstelingseisoen. Wat ek wel moet gelyk gee, is dat dit nie ons almal se gunstelingseisoen is nie en wens dit moet nou net einde se kant toe staan.

Goeie en slegte nuus vir diesulkes, want die lente het darem tekens van sy opwagting gemaak. Hier in die Wes-Kaap is ons dankbaar vir daai twee of drie dae toe ons heerlike sonskynweer kon ervaar. Met die mildelike reën wat geval het, is die blomme oral sommer ekstra mooi.

Eish, maar net toe jy dink die lenteseisoen is hier, kom maak die winter nog sy laaste verskyning. Wel, vir my vriende wat verlangend uitsien na die lekker warm sonskyndae, hoop ek van harte dat jul wense sommer gou bewaarheid sal word.

Met die aanbreek van lente is dit ook die maand waarin ons as Suid-Afrikaners ons kosbare kultuurerfenis op verskillende wyses vier. Hier reg aan die begin van Erfenismaand was ek bevoorreg om al ’n paar van hierdie kosbare kultuurgoedere saam met ander te vier. My eerste feestelike proesel hiervan was by die verjaardagvieringe van ons ikoniese digter en aktivis Diana Ferrus. Die rooi tapyt is behoorlik uitgerol om haar lewe en lewenslange bydrae tot die kunste in Suid-Afrika te vier. Die lewendige uitsending uit die Seepunt-ateljee in Kaapstad was een vir die boeke.

Die weer het perfek saamgespeel. Lente was in die lug. Die bydraes van Diana haarself sowel as dié wat spesiale bydraes gelewer het, was topklas. Saam is ons op reis geneem om weer die naam en eer van ons geliefde Saartjie Baartman te herdenk. Met woorde en akkoorde uit die pen van Diana Ferrus het ons met blye harte die tog uit Frankryk tot in die boesem van die Gamtoos-vallei herleef.

Met sewe dekades se hierwees, inspireer Diana Ferrus se storie ons dat die kunste in ons land vir dekades hierna nog lewend sal bly solank ons daaroor praat en skryf.

My tweede draai op nog ’n heerlike sonskyndag was ’n kultuurliefde van ’n ander aard – die rugbyveld. Op die dag se program was ’n titaniese stryd tussen twee aartsvyande. Twee buurdorpe in die hartjie van die Swartland het sake uitgespook. Hier word rugby jaarliks hoog op die sosiale en kulturele agenda geplaas. Die gees onder die toeskouers was absoluut fantasties. In baie van ons plattelandse gemeenskappe word hierdie skouspel van titaniese rugby-derby’s as die vertoonkas van ’n kosbare kultuurskat beskou. Dis wie ons is. Met die min wat ons het, is dit die een skat wat ons as gemeenskap byeenbring, laat saam vier en spog. En die pragtige wyse waarop die dag hom uitgespeel het, getuig daarvan dat ons as gemeen­skappe kán saamstaan; dat ons nie sal toelaat dat geweld en vandalisme die septer swaai nie; dat gesonde sportmangees en gedrag inderdaad deel is van ons kultuur.

Nog ’n kort linksdraai wat ek gemaak het, was by ’n Heerboonfees aan die Weskus. Wat ’n absolute lekkerte was dit nie – die lente en die gepaardgaande blommeprag soos dit eie aan die Weskus kan wees, het die dag ekstra mooi ingekleur. Feestelikheid was oral in die atmosfeer te gewaar. Die spyskaart vir die dag was ’n lus vir die oog en die maag. Heerbone (gaan doen maar jou ekstra navorsing oor hierdie plantspesie) was natuurlik die trekpleister van die dag. Eiesoortig aan die Sandveld was dit ’n eerste vir my om by te woon. Van akrobatiese dansies tot ritmiese rieldanspassies het vir top- vermaak gesorg.

Oral was daar stalletjies wat gesorg het dat niemand met ’n leë maag huiswaarts keer nie. Al jou tradisionele disse was daar – van roosterkoek tot heerboonsop en bredies. En dié wat hou van ’n lekker skaapkop of tuisgebakte brood en konfyte na jou smaak, is gewis nie teleurgestel nie. Die kersie op die koek was natuurlik die hartlike samesyn.

Die weersien van vriende ná maande of jare se afwesigheid – kultuur is veronderstel om individue en gemeen­skappe bymekaar te bring. En dis presies wat my oog en hart gesien en beleef het. En met die lente in die lug was en is dit die perfekte kombinasie.

Ek weet nie wat op jou spyskaart vir hierdie Erfenismaand is nie, maar ek vertrou dit sal lekker lig en lewendig wees; dat die son lekker warm op jou sal skyn en dat jy die ekstra mooi van hierdie lenteseisoen sal vier.

Ek wens sommer ook dat dit jou so sal inspireer dat jy self sal begin skryf, speel, dans, dig, kook en teken; dat ons die kosbare kultuurgoedere wat ons besit, verder sal uitbrei en dit ’n fees sal maak vir ander om te aanskou en te beleef.

Prettige Erfenismaand vir jou!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article