’n Greep uit ’n video waarin ’n 15-jarige leerder ’n 19-jarige leerder van agter af aanval en aanrand.Foto: Facebook


’n Herrie het nou om die koppe van drie leerders by die Hoërskool Vredenburg aan die Weskus losgebars nadat ’n video waarop die een seun ’n ander een aanrand, soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het.

Die beseerde 19-jarige seun se neus is in die aanval gebreek en hy het veelvuldige kneusplekke opgedoen. Die voorval het Dinsdag 23 Mei tydens pouse op die skoolterrein plaasgevind.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, sê die Vredenburgse polisie ondersoek ’n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen die 15-jarige skoolseun wat op die video die slaanwerk gedoen het.

Amper 3 000 mense het teen nou reeds die video versprei en byna 2 000 mense het al kommentaar gelewer.

Weslander het reeds navrae aan die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die Hoërskool Vredenburg gerig en wag nog op kommentaar. Die WKOD is ook gevra of die departement ook teen die video-opnemer gaan optree.

So ver vasgestel kon word, sal ’n interne tugverhoor Dinsdag 30 Mei by die Hoërskool Vredenburg plaasvind. 

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article