Party mans ry blink motorfietse, party ry naweke duine met spogbakkies uit en ander geniet hul helderkleurige motors met lae vering . . . Jannie Slabbert (62) van Vredenburg ry trekker, maar nie sommer enige trekker nie – ’n 1961 John Deere 730D-model.
Dié trekker, waaraan vier jaar lank gerestoureer is, het Jannie die afgelope naweek ’n eerste plek op die Villiersdorp-skou besorg. Hy het ander veteraantrekker-eienaars in die 1961-1970-afdeling uitgestof met sy prentjiemooi trekker in die kenmerkende groen-en-geel van die John Deere-handelsmerk.
Lede van die Suid-Afrikaanse Federasie van veteraantrekker-en-enjinklubs (Savtek) stel elke tweede jaar hul veteraantrekkers, ou enjins, stoomenjins, donkiebalers en ander veteraanmeganismes in Villiersdorp uit. Daar is ook ander pryse, soos vir die heel mooiste trekker.
Jannie, wat al 39 jaar vir Eskom se kliëntediensafdeling werk, het in 2007 begin om veteraantrekkers te restoureer. Sy liefde vir trekkers het al as plaaskind begin, maar sy pa het egter in 1970 besluit om hul plaas te verkoop.
Dit was eers in 2005 by ’n veteraantrekkerskou in die Paarl waar die ou gogga weer gebyt het. Twee jaar later het hy sy eerste veteraantrekker gekoop en vandag het hy vyf, maar dié 1961-John Deere is sy gunsteling. “Dié een is die mooiste een; hy staan bo die ander uit.”
Hy het dit agt jaar gelede buitekant Dwarskersbos by Jasper Smit van die Modderfontein-plaas gekoop. Hy het baie hulp gehad om die trekker in vier jaar te kry soos wat dit vandag daar staan.
Jannie dink veral aan die Weskusskool wat die panele oorgedoen, duike reggemaak en gespuitverf het. Hy het ook gebruik gemaak van die raad van manne met meer kennis as wat hy gehad het om die trekker in ’n perfekte toestand te kry.
Die trekker is ook nie net mooi nie, maar hy lóóp, vertel Jannie trots.
Hy behoort aan die Malmesbury- Veteraan-trekker-en-enjinklub en dit was die eerste keer wat Jannie sy trekker in Villiersdorp uitgestal het. Die organiseerders het foto’s van sy John Deere gesien en besluit hy moet deel van die skou wees.
Die trekker is spesiaal by hom kom haal en na Villiersdorp geneem.
“Dit was vir my ’n gawe van Bo dat ek die geleentheid kon kry,” sê Jannie.





