Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images


Jaareinde kruip met die aanloop tot die feesdae al nader, en hoewel die meeste mense al hul Kersete beplan en, indien moontlik, ook Kersgeskenke en tyd saam met familie, neem misdaad ongelukkig ook hierdie tyd van die jaar toe.

Kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, raai die publiek aan om die veiligheid in en om hul huis en sakeonderneming te verskerp, want dié tyd van die jaar neem veral inbrake by huise en sakeondernemings toe.

Die afgelope tyd is weekliks berig oor inbrake in die Weskus waar inbrekers die dakteëls of ruite stilletjies uithaal om toegang tot ’n huis of onderneming te verkry.

“ ’n Werkende alarmstelsel en diefwering dien as goeie afskrikmiddels om ’n inbreker te stuit.”

In twee afsonderlike voorvalle in Riebeek-Wes is ’n 62-jarige man en 70-jarige vrou onlangs wakker gemaak deur hul alarms wat Maandag 13 November in die vroeë oggendure begin loei het.

“Die klaers kon die poging tot inbraak danksy hul doeltreffende en werkende alarmstelsels en met behulp van die veiligheidsbeamptes verhoed.”

Helfrich waarsku in dieselfde asem ook die publiek om nie gesteelde goedere te koop en die bose kringloop te laat voortduur nie.

“Wees op die uitkyk as ’n sogenaamde kennis of vriend of selfs ’n sosialemedia-inskrywing ’n produk aan jou te koop aanbied teen ’n verminderde prys.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article