Drie mans is Vrydagmiddag 1 Desember in ’n huis in Bowerstraat, Vredenburg, deur ’n groep mans met pangas en messe aangeval. Die slagoffers moes daarna mediese behandeling ontvang. Die motief vir die aanval is steeds onbekend en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Twee mans het Sondag 3 November op Vredenburg na bewering ’n 16-jarige tiener met ’n mes in die rug gesteek. Die seun het mediese behandeling ontvang. Charlton Jordaan (29) en Dawie Nero (44) het Dinsdag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Natasha Booysen (39) het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van winkeldiefstal nadat sy Sondag 3 November om 12:45 in ’n kettingwinkel in Hoofstraat aangekeer is toe sy “inkopies” gaan doen het. Booysen het na bewering verskeie items in winkelsakke in die winkeltrollie probeer versteek en wou slegs vir ’n gasbottel betaal, toe sy voorgekeer is.

Twee mans, onderskeidelik 32 en 38 jaar oud, is Sondag 3 November in Vredenburg in twee afsonderlike voorvalle met vervalste goedere betrap. Die twee het die vervalste goedere verkoop en onder klante versprei. Hulle sal op 8 Januarie in die landdroshof verskyn.

’n Man (31) van DarLING het na bewering ’n tweejarige kind met ’n mes in die oog gesteek terwyl hy eintlik vir die kind se pa gemik het. Die verdagte het Maandag in die landdroshof verskyn.

Saterdagoggend het ’n 36-jarige klaer vir Robert Nel (19) gevra om ’n winkel in Vanrhynsdorp te verlaat. Nel het na bewering kwaad geword en die klaer met ’n mes gedreig. Hy het Maandag 4 Desember in die plaaslike landdroshof verskyn.

Die polisie raai mense aan om op die uitkyk te wees vir gewetenlose skurke wat hulle as bankamptenare voordoen. Geen bankamptenaar gaan mense bel en oor die foon meedeel van “onwettige” transaksies in hul bankrekeninge nie. Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, benadruk mense moet nie gehoor gee aan “instruksies” wat hieroor gegee word nie. “Beëindig die oproep onmiddellik, en as jy onraad vermoed, gaan doen self ondersoek by jou bank.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article