Die Vredenburg-polisie het Tashwin Diedericks (23) die naweek in verband met die moord op Edward Mitchell (36) in hegtenis geneem. Mitchell se lyk is Saterdag 27 Januarie omstreeks 23:30 in ’n huis in Wilgerstraat, Witteklip, met veelvuldige steekwonde gekry. Diedericks het Dinsdag 30 Januarie in die landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Gabriel Marlow (33) is Vrydagoggend (26 Januarie) dood in sy kamer in Hopefieldweg, Malmesbury, gekry. Hy het sewe skietwonde gehad. Die Malmesbury-polisie ondersoek die moord.

’n 32-jarige veiligheidswag by Afrox Gas in Vredenburg het Vrydagoggend omstreeks 04:40 twee verdagte mans gesien wat van die gasbottels gesteel het. Hy het die verdagtes gekonfronteer, waarop een van die mans weggehardloop het. Die ander een het ’n vuurwapen op die wag gerig en hom beveel om stil te bly. Die rowers het weggekom met gasbottels ter waarde van R1 100.

Nog ’n gewetenlose rower het Donderdagmiddag in Nerinastraat in Noordhoek, Velddrif, geld by ’n 63-jarige vrou, wat gedeeltelik verlam is, geroof. Die man het die klaer van agter genader, die geld uit haar hand geruk en daarmee weggehardloop.

’n Veertienjarige meisie is Vrydagaand (26 Januarie) in Darling aangekeer nadat sy gedreig het om haar 36-jarige ma dood te maak. Haar ma se huis se ruite is kort daarna stukkend gegooi. Die tiener het Maandag (29 Januarie) in die landdroshof verskyn.

’n Klagte van openbare onsedelikheid is in Darling aangemeld nadat ’n man Saterdagmiddag (27 Januarie) al sy klere in Botterboomlaan uitgetrek en kaal gedans het.

’n Klagte van poging tot moord word in Hopefield ondersoek nadat Bronwyn Cleophas (20) glo Saterdagaand ’n 27-jarige man met ’n panga oor die kop geslaan het. Cleophas het Dinsdag in die landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article