Piketberg-krieketklub het verlede Saterdag op sy tuisveld verras met ’n naelskraapse oorwinning van 14 lopies teen Paarl-krieketklub, wat sy eerste nederlaag in die Boland se premierliga-kompetisie gely het.

Dit was Piketberg se tweede sege in die topliga en Wellington-krieketklub sal in sy spoor moet trap met sy besoek aan die graanboere eerskomende Saterdag.

Paarl se nederlaag veroorsaak dat die Maties nou met drie punte voorloop (danksy sy bonuspunte), wat afstuur op ’n reusebotsing wanneer die studente Saterdag hul spiere op die Parysveld kom bult. Derde op die punteleer is Vredenburg-Saldanha, wat twee weke later Paarl toe kom.

Kaptein Lorenzo Ockhuis (51, 3×4, 1×6) en Wesley Skippers (31, 2×4) het die tuisspan goed laat begin met ’n aanvangsvennootskap van 75 lopies, voordat albei bvp uitgegee is deur die vaart van Grant Chordnum (8-0-35-4). Daarna het Jake Hine (51 n.u.n, 3×4, 1×6) en Paul Dietrich (39, 2×4, 2×6) vasgeskop in ’n vierdepaaltjie-vennootskap van 65 lopies, maar die res van die kolwers het gesukkel teen die Paarlse kaptein Waylain September (10-1-30-2), terwyl Tylon Matthee (8-0-30-0) weer eens ekonomies was met die nuwe bal.

Met ’n teiken van 218 in 50 boul­beurte het Paarlse aanvangskolwers haastig begin, met Darryl Hendricks (63, 5×4, 2×6) en Robyn Andrews (61, 5×4) wat gesorg het vir ’n aanvangsvennoot­skap van 109 lopies. Hendricks se kolfgemiddelde staan tans op 118 in die ligakompetisie en hy sal Paarl se steunpilaar teen Maties wees. Ná 42 lopies van die eerste vier boulbeurte was Piketberg verplig om vroeg reeds gebruik te maak van sy aflosboulers. Hier het Ricardo Maarman (10-0-27-0), Ockhuis (8-0-30-1), Dietrich (10-0-36-2) en Vivian de Wee (10-1-35-3) reusewerk verrig. Skippers het ook beïndruk met ’n paar briljante vangskote agter die paaltjies. Athabile Breakfast en Gertrum Brink, wat vroeg kwaai deurgeloop het teen Hendricks, het teen die einde goed kom boul om Paarl tot 203 te beperk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article