Noluvu Ludidi
In die lig van Verpleegsterdag wat op Maandag 12 Mei wêreldwyd gevier is, vertel die verpleër Sherlock Skippers (35) dat die goeie sorg wat hy as kind van verpleegsters in die hospitaal ontvang het hom geïnspireer het om ook een te word.
Ná sy vroeë geboorte het Skippers, van Diazville, as kind baie tyd in die hospitaal deurgebring. Dis in hierdie tyd dat hy gefassineer geraak het met hoe die verpleegsters met hom as pasiënt gewerk het.
“Ek het altyd vir myself gesê dis hoe ek ander eendag wil laat voel. My passie spruit uit die feit dat ek wil terugploeg in my gemeenskap op ‘n betekenisvolle wyse en verpleging laat my toe om presies dit te doen.”
Skippers sê hy werk vir die afgelope drie jaar met ‘n uitmuntende span by die Vredenburg- provinsiale hospitaal in die kraamsaal. Hy beskou Verpleegsterdag as ‘n belangrike viering omdat dit ‘n kultuur kweek wat waardering beklemtoon.
“Deur verpleegsters te vier gee spanmoraal ‘n hupstoot en versterk werks- tevredenheid tussen verpleegkundiges. Ek dink ‘n [eenvoudige] dankie en om te sien hoe pasiënte beter word onder jou sorg is viering genoeg. So vir my is elke dag Verpleegsterdag.”
Om ‘n professionele verpleegkundige te wees verskaf Skippers vreugde en gun hom die vermoë om holistiese hulp aan sy medemens te verleen. Hy voel dit verg deurnis en passie en dat sy vaardigehede en empatie hom help om na sy pasiënte se welstand om te sien, hetsy dit op ‘n fisieke, emosionele of sielkundige vlak is, en dit dra by tot hul genesingsproses.
“Dit als terwyl ek ‘n ondersteunende teenwoordigheid is in ‘n kwesbare tyd in hul lewe. Dis vir my ‘n absolute eer om mammas en babas te help om ‘n veilige bevalling te hê. Dit is ‘n baie bevredigende gevoel elke keer wanneer ‘n baba gebore word en om te weet ek kon hulp en bystand bied sodat ‘n ma haar bon-
deltjie vreugde vir die eerste keer in haar arms kan vashou.”
In die wêreld van verpleging is daar soms ‘n stereotiepe wat die ronde doen wanneer dit by mans in die beroep kom. Skippers sê egter verpleging is ‘n edele beroep en een wat konstant ontwikkel, en nie noodwendig op geslag gebaseer is nie.
“Daar is vandag manlike verpleegkundiges wat die poste van operasionele bestuurders, dosente en leiers in verpleging bekleë en dis lewende getuienis dat daar wel ‘n plek vir mans is in ‘n beroep wat deur vroue gedomineer word. Ek dink die feit dat daar mans is wat verpleeg en dat daar eindelose moontlikhede in die veld van verpleging vir ons is, behoort mans te wys dat om ‘n manlike verpleegkundige te wees ‘n meer diverse arbeidsmark in die beroep verseker.”





