Eric Brindeau, wat Vrydag 27 Januarie as vermis aangemeld is, se lyk is die volgende dag in Yzerfontein gevind.
Sers. Johnatan Filander van die Darling-polisiekantoor is die afgelope Saterdag deur lede van die plaaslike buurtwag van Yzerfontein na die toneel ontbied nadat sy lyk daar ontdek is.
Brindeau het in Seepunt gewoon. Dit is in hierdie stadium onduidelik wanneer hy vermis geraak het, hoewel hy na bewering Donderdag 26 Januarie die laaste keer gesien is.
Een van die plaaslike veiligheidskameras by die ingang van die kusdorp het sy voertuig, ’n Nissan NP200-bakkie, vasgevang.
Volgens die polisie is sy voertuig die Vrydagnag deur die kameras waargeneem. Die voertuig het volgens die kringtelevisie se beeldmateriaal ook nooit weer die dorp verlaat nie.
Brindeau se bakkie is Saterdag op die parkeerarea by die hoofstrand deur die plaaslike buurtwag gewaar. Sy lyk is op die oop bak van die bakkie gevind, voeg Filander by.
Hy is met ’n plastieksak oor sy kop gevind.
Volgens die verslag van die lykskouing het hy versmoor.
“In hierdie stadium word geen misdaad vermoed nie, maar die gebeure rakende sy dood word steeds deur die polisie ondersoek om alle moontlikhede uit te skakel,” sê Filander.
’n Familiewoordvoerder sal later vandeesweek meer besonderhede oor die ondersoek beskikbaar stel.




