Om ’n baba te hê, is ’n baie spesiale gebeurtenis in ’n paartjie se lewe. Die veiligheid en gesondheid van jou bondeltjie vreugde is vir nuwe ouers hul topprioriteit, maar die versorging van ’n nuwe baba kan oorweldigend wees.
Ongelukkig is daar tye wanneer gesonde babas om geen spesifieke rede skielik sterf. In die meeste gevalle word die dood veroorsaak deur skielikebabadood-sindroom, wat in die volksmond bekend staan as wiegiedood. Die woord “wiegiedood” wek vrees by die meeste nuwe ouers, maar die nodige kennis om risikofaktore vir hierdie sindroom te verminder, kan hulle baie gemoedsrus gee.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het die volgende inligting aan Weslander se lesers oor wiegiedood verskaf:
Wat is skielikebabadood-sindroom of wiegiedood?
Dit is wanneer ’n baba wat jonger as een jaar oud is, skielik sterf.
Dit gebeur gewoonlik wanneer die baba slaap en ná ’n ondersoek kan geen spesifieke oorsaak gevind word nie.
Wiegiedood kan skielik met ’n gesonde baba gebeur.
Risikofaktore
Volgens die Safe Sleep-veldtog kan die volgende faktore ’n baba ’n groter risiko bied om aan hierdie sindroom te sterf: . Babas wat op hul maag slaap;. babas wat gewoonlik op hul rug slaap, maar op hul maag gesit word vir ’n middagslapie, is meer in gevaar;. slaap op sagte oppervlaktes soos hul ouers se bed en rusbanke;. die baba word te warm terwyl hy slaap;. wanneer ’n baba op of onder beddegoed slaap wat los is;. babas wat aan sigaretrook blootgestel word – of dit in die baarmoeder was, hul huis of enige ander omgewing;. babas moet liefs nie by hul ouers, troeteldiere of ander kinders slaap nie, veral nie as hulle nog baie jonk is nie (jonger as 11 tot 14 weke).
Hoe kan ek my baba se risiko verminder?
Volgens Mediclinic Infohub kan jy jou baba se risiko verminder deur hierdie riglyne te volg:. Sit altyd jou baba op sy rug om te slaap;. jou baba moet op ’n ferm en plat oppervlak soos ’n harde babamatras slaap;. moenie jou baba te warm aantrek nie en maak seker dat haar kop nie bedek is wanneer sy slaap nie;. moenie tydens en ná jou swangerskap rook nie en hou jou baba in ’n rookvrye sone;. slaap in dieselfde kamer as jou baba, maar nie in dieselfde bed nie; jy kan jou kind naby jou hou deur hom in ’n wiegie of bedjie langs jou bed te hou.
Deel hierdie lewensreddende raad met jou baba-oppasser en familielede wat na jou baba moet omsien wanneer jy by die werk is.. As jy nog inligting wil hê of enige vrae het, kan jy dit by jou volgende besoek met jou pediater, huisdokter, verpleegster of dokter by die hospitaal of kliniek bespreek.
Onthou – wiegiedood word nie deur kindermishandeling of verwaarlosing veroorsaak nie.
’n Mens kan dit nie bloot voorkom nie, maar jy kan die risiko’s verminder.


