Heuning is ’n peperduur en waardevolle kommoditeit wat hoog in aanvraag is.
Dis g’n wonder diewe teiken deesdae plaaslike heuningboere en -handelaars nie.
Drie mans het Maandag ’n tweede keer in die Vredenburg-landdroshof verskyn met betrekking tot ’n inbraak by Cape Coastal Honey in Prosesstraat tussen 12 en 13 Julie.
Tydens die inbraak is drie houers heuning van 25 kg elk ter waarde van R7 000 uit die perseel gesteel.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van Vredenburg-polisie, het die polisie op 13 Julie in die donker oggendure patrolliediens gedoen toe hulle nuus ontvang van drie verdagtes wat in Sterrezichtstraat deur lede van die buurtwag voorgekeer is.
Die verdagtes van onderskeidelik 36, 34 en 23 jaar oud het ’n waentjie met drie houers heuning daarop by hulle gehad.
Helfrich sê twee van die verdagtes is al voorheen skuldig bevind op aanklagte van huisbraak, diefstal en diefstal uit ’n voertuig.
Een van die mans word met ’n moordsaak, wat in April 2019 aangemeld is, verbind.
In ’n ander geval het diewe ook vroeër in Julie helder oordag houers heuning van ’n boer se bakkie, wat in ’n parkeerterrein in Vredenburg geparkeer was, gesteel.
’n Amptelike klagte is nie in hierdie geval aangemeld nie, maar die polisie is wel daarvan in kennis gestel.




