Die Saldanha-polisie het ’n groot hoeveelheid dagga by ’n huis in Vraagomstraat, Diazville, gevind nadat hulle ’n wenk uit die gemeenskap ontvang het.
Volgens AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, het lede van die misdaadvoorkomingseenheid se B-skof en die plaaslike Vispol-A-skof Sondag (22 Januarie) patrolliediens in die gebied gedoen toe hulle inligting ontvang dat iemand dagga by die betrokke huis in Vraagomstraat verkoop.
Die inligting is opgevolg en het tot ’n klopjag by dié huis gelei, waar R11 800 se dagga gevind is.
Een verdagte is met betrekking tot die daggavonds in hegtenis geneem.
“Omdat dit ’n groot hoeveelheid dagga is, word ’n saak van handel in dwelms ondersoek,” het Kotze verduidelik.
“Ons wil die gemeenskap bedank vir die inligting wat deurlopend aan die polisie verskaf word. Sonder dié hulp sou hierdie sukses nie plaasgevind het nie,” het Kotze gesê.





