Hoewel die persoonlike gebruik van dagga deesdae in Suid-Afrika wettig is, is die handel in dagga steeds ’n ernstige misdryf.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, is twee verdagte mans van Piketberg, onderskeidelik 26 en 36 jaar oud, Saterdag (12 November) deur die polisie en verkeersbeamptes in Langstraat voorgekeer. Die voertuig is deursoek en die polisie het op vier pakke dagga met ’n straatwaarde van nagenoeg R12 000 beslag gelê. ’n Klagte van handel in dwelms word ondersoek.
Die hoeveelheid dagga in iemand se besit gee dikwels aan die polisie ’n aanduiding van die verdagte se voorneme daarmee. ’n Groter hoeveelheid dagga kan op moontlike onwettige handel dui.





