Die verligting is groot vir baie mense nadat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid, oftewel Sassa, die sperdatum vir die vervanging van die goue Sassa-kaart met die swart Postbank-kaart tot Donderdag 20 Maart verleng het.
In ’n persverklaring deur Jaco Londt, die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, het hy gedeel dat hy die verlengingsdatum verwelkom. Londt het gesê hy is oorval met navrae en klagtes van Sassa-begunstigdes van oor die Wes-Kaap heen.
“Baie van die klagtes [gaan oor] die gebrek aan Postbank-terreine in landelike gebiede. Dit is onaanvaarbaar dat die meerderheid dienspunte in die provinsie in die Kaapse Metro is, met slegs ’n paar in George, Vredenburg en Caledon (hoewel ons inligting ontvang het dat dié in Vredenburg en Caledon blykbaar nie in werking is nie). Die kantore moet ook voldoende beman word om die toestroming van begunstigdes te hanteer.”
Londt sê Postbank moet die aantal dienspunte in landelike gebiede vermeerder. “Ons het gehoor van bejaarde inwoners wat van die vroeë oggendure in toue staan, net om later weggewys te word. Baie van ons mees kwesbare inwoners bestee geld wat hulle nie [kan bekostig] nie, om lang afstande te reis om by plekke te kom wat hulle dalk nie gehelp word nie.”
Thirston Williams, ’n inwoner van Vredenburg en wat self ’n oupa het wat ’n Sassa-begunstigde is, sê hy is daagliks in kontak met bejaardes en kan die paniek onder hulle aanvoel –juis omdat hulle nie die nodige inligting gehad het nie.
“Hulle sien die nood van ons oumense se geld. Baie dra nog huishoudings met daai geld, dus moet paniek juis nie gesaai word met mense se bestaan wanneer dit by 20 Maart kom nie. My verwagting is dat met munisipaliteite gepraat word en mense uitgestuur moet word om die bejaardes met die nodige inligting te help.”
Norman van Wyk, ’n gemeenskaps-aktivis en wykskomiteelid, sê die algemene gevoel van gemeenskapslede wat Sassa-begunstigdes is, is dié van onbeskryflike verligting.
“Dit is van nature nadat die vroeëre sperdatum vir die goue kaarte groot paniek onder die begunstigdes gesaai het. Dit was kommerwekkend om te sien dat die rye by Sassa-kantore in die laaste paar dae verdriedubbel het met veral ouer mense en diegene in rolstoele of op krukke wat die hitte van die son moes trotseer – dit slegs om heel voor te kom en dan deur amptenare ingelig te word dat hulle die verkeerde prosedure gevolg het.
“Baie is ingelig dat hulle eers by Postbank of selfs EasyPay rekeninge moet oopmaak.”
Van Wyk meen daar is steeds mense aan wie die nuwe sperdatum nie bekend is nie en ook nie weet watter prosedures om te volg om die kaarte te verander nie. Hy voel Sassa moet uitreik na prominente gemeenskapsfigure en hulle vra om hulp om die boodskap oorgedra te kry. “Ons wil nie weer sit met die onplesierige situasie wat ’n kort tydjie gelede afgespeel het nie. Hoewel ek persoonlik die nuwe sperdatum verwelkom, bly ek skepties dat elkeen wel betyds hul besonderhede verander gaan kry juis omdat daar steeds na my mening te min dienspunte plaaslik is, met slegs Shoprite in die onderdorp. Neem in aanmerking dat Sassa steeds onderbeman is en Shoprite nog nie heeltemal reg is om die kaart- veranderingsdiens te behartig nie.”
’n Werknemer van Shoprite in Vredenburg het Maandag (17 Februarie) weer aan Weslander bevestig dat daar nog nie ’n amptenaar is wat met die kaart-proses help nie. ’n EasyPay-werknemer het verduidelik as mense ’n Easy-rekening by hulle open, sal begunstigdes ’n vorm ontvang wat hulle aan Sassa moet gee, wat moet verseker hul besonderhede word bygewerk om sodoende hul toelae te ontvang.
Londt voeg by hulle sal voortgaan om die kaartmigrasieproses te monitor om te verseker dat kwesbare inwoners vir wie hierdie toelaes noodsaaklik is vir hul voortbestaan, die beste diens moontlik ontvang.




