Die verkeersdiensbestuurder van die Cederberg-munisipaliteit en nog ’n munisipale amptenaar het Dinsdag (29 Augustus) weer in die streekhof in Vredenburg op aanklagte van bedrog en korrupsie verskyn.
Die sake teen André Dirkse, die huidige verkeersbestuurder by Cederberg, en Rayven Karstens spruit uit voorvalle by die Matzikama-munisipaliteit, waar hulle voorheen gewerk het.
Die polisie se eenheid vir ondersoeke na prioriteitsmisdaad, die Valke, het Dirkse en Rayven in 2018 reeds in hegtenis geneem weens beweerde bedrieglike padwaardigheidstransaksies. Hulle is destyds borgtog toegestaan.
Die staat glo sy bewyse dui daarop dat Karstens en Dirkse saamgespan het om padwaardigheidsertifikate teen betaling aan kliënte te verskaf. Die saak was weer vlugtig voor die hof om ’n datum vas te stel waarop die verhoor kan begin. Die besluit is Maandag 20 November.. Yaël Malgas berig Anthony Mlata, ’n woordvoerder vir die Cederberg-munisipaliteit, het op navraag oor ’n interne ondersoek teen Dirkse geantwoord “die munisipaliteit is besig met sy eie interne prosesse” en kan nie op dié tydstip enige kommentaar oor die tugverhoor lewer nie.


