In twee afsonderlike sake wat spruit uit geïntegreerde stop-en-deursoek-optredes langs die N7, het ’n vrou (33) en man (60) onlangs in die Vanrhynsdorp- rondgaande hof verskyn in verband met dwelms met ’n geraamde gesamentlike straatwaarde van amper R6 miljoen rand.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, is 41 000 Mandrax-tablette ter waarde van R2 050 000 Woensdag 26 April in ’n verdagte voertuig, wat naby die Klawer-weegbrug deursoek is, gekry. Busisiwe Kgantlapane is in hegtenis geneem en het gister (Woensdag 17 Mei) weer in die hof verskyn. Uitspraak is teen druktyd nog nie gelewer nie.

In nog ’n saak word Abdul Peter (60) aangekla van die onwettige besit van heroïne ter waarde van R3,7 miljoen waarop beamptes Sondag 16 April in ’n padblokkade beslag gelê het. Die dwelms was in 53 sakkies van 1 kg elk verpak. Peter het op 11 Mei in die Vanrhynsdorp- rondgaande hof verskyn.

Die sake word deur die eenheid vir georganiseerde misdaad ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article