’n Man (18) van Diazville, Saldanha, is verlede week in hegtenis geneem weens die wrede moord op die netbalspeler en -afrigter Elrico Byl (27) van dié woonbuurt.
Byl, ook bekend as Rico, se lyk is Woensdag 17 Januarie op die strand by Tabakbaai naby Diazville gekry.
Dit volg ses maande nadat Alfredo “Tannie” April (39), een van Malmesbury se glanspersoonlikhede en ’n bekende in netbalkringe, verlede jaar in Julie vermoor is. April is in die nek gesteek en het op die toneel gesterf. Twee verdagtes van onderskeidelik 27 en 32 jaar oud is van sy moord aangekla.
Wesley Snyders, ’n inwoner van Diazville, is Donderdag 18 Januarie, ’n dag ná Byl se moord, in hegtenis geneem, sê die polisiewoordvoerder kapt. Tania Helfrich. Die polisie het inligting opgevolg oor dié moord, wat glo buitengewoon gewelddadig was.
Sedert Weslander verlede week oor die moord berig het, het dit aan die lig gekom dat Byl glo erge aanranding en marteling voor sy dood ervaar het.
Gemeenskapslede het Vrydag 19 Januarie ’n betoging by die Saldanha-polisiekantoor gehou om vir geregtigheid vir Byl te pleit.
Snyders het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van moord. Hy verskyn weer Maandag 5 Februarie in die hof vir sy aansoek om borgtog.
Byl se gesin het hom Sondag 14 Januarie die laaste keer lewend gesien en hom Maandag (15 Januarie) as vermis aangegee.
Snyders is ook Dinsdag 16 Januarie vir die onwettige besit van dwelms aangekeer, waarvoor hy op 18 Januarie in die landdroshof sou verskyn het.
. Kontak speursers. Siyabonga Bara by 079 894 0083 met enige inligting oor Byl se moord.




