Velddriwwers het hul asems Saterdag 6 Junie opgehou met die aankondiging dat net twee sekondes die jong Tom Lovemore (26) van Knysna en Robbie Herreveld (52), ’n plaaslike roeier en sesmalige wenner, mekaar in die begin van die laaste deel van die 62ste Bergrivier-kanomarathon geskei het.
Die laaste skof op die vierde dag van dié kano-wedvaart van 240 km het weer, soos elke jaar sedert 1962, net voor die Carinusbrug voor die Riviera-hotel in Velddrif geëindig.
Lovemore en Herreveld het van die openingskof van 62 km van die Paarl na Zonquasdrift tot by die eindpunt in Velddrif mekaar vier dae lank die stryd aangesê.
Lovemore het met sy hande vol blase uiteindelik triomfantlik oor die eindpunt geroei, maar eers vir Herreveld naby die brug gewag sodat hy in ’n roerende oomblik sy hand kon skud en hom ’n druk kon gee voordat hy aan wal gegaan het.
Herreveld het tweede geëindig ten spyte van ’n maagaandoening wat hom reeds die vorige nag begin pla het. Hy het die Berg’ reeds as 19-jarige gewen en geskiedenis gemaak deur dit nog vyf keer daarna te wen.
Lovemore het hulde aan Herreveld se merkwaardige poging en sy krag en spoed gebring toe hy aan wal kom.
Jeremy Maher (22), een van die gunstelinge om te wen, het in die voorste groep geëindig om ’n algeheel derde plek te verseker.
Hoewel Stephanie von der Heyde Saterdag moeilikheid met ’n roeikabel ondervind het en sy vir die laaste skof tweede gekom het, het sy as algehele vrouewenner geëindig.
Neriyah Dill (18), wat die laaste skof gewen het, het die algehele tweede plek ingeneem met Tayla Isak derde.
Dit was ook die 41ste keer dat Ilse Marais (65) as beampte vir die Berg’ optree. Vanjaar was haar hart op die water met haar broer, Mynhardt Marais (62), wat weer deelgeneem het. Sy het in 1977 namens die Matie-kanoklub betrokke geraak en was van daar af elke jaar getrou op haar pos. Ilse vertel dat sy baie roeiers, soos Herreveld, as juniors sien deelneem het en sy was by toe Herreveld die Bergrivier-kanomarathon as 19-jarige gewen het.
Die Berg’-familie kom soek dadelik na Ilse as hulle ’n pleister, salf of net ’n bietjie liefde kort. “Ons huil en lag hier almal soos broers en susters.”
Ilse wys met trots die blad wat vroeër jare uitgegee is toe KWV nog die hoofborg was. Destyds was daar ook nog ’n beamptevereniging.
Vir Ilse is die Berg’ die hoogtepunt van haar jaarkalender. Sy sal sit en natreën, soos vanjaar op die eerste dag, maar getrou op haar pos agter die beamptetafeltjie met haar gemerkte knipbord bly. “Solank ek ’n verskil in een mens se lewe gemaak het, is dit alles die moeite werd.” Sy benadruk dat elke roeier wat die Berg’ voltooi, in haar oë ’n wenner is.
Een van haar kosbaarste herinneringe is die groot oomblik in 2022 toe Graham Solomon twee goue medaljes gekry het – een as skofwenner en een as algehele wenner. Hy het een afgehaal en seremonieel vir haar gegee.
Die Berg’ het met die jare al kleiner geword, maar word steeds gereken as die uitmergelendste kanomarathon ter wêreld, sê Etienne Laubscher, die voorsitter van die Weskus-kanoklub. Vanjaar was daar 103 inskrywings waarvan agt plaaslike roeiers was.
Die finale tye was Lovemore – 18 uur en 39 minute, Herreveld 18:40:41, Maher 18:54:11, Von der Heyde 21:59:54, Dill 22:05:21 en Isak 23:38:46.39.





