Die Holloway-drieling as babas.


Dit was meer as net die koms van ’n bondeltjie vreugde vir die Holloway-egpaar op 15 April 2009 – ma Alana en pa William is met ’n drieling verras.

Dié drieling Shana, Kiana en Jana Holloway het hul 13de verjaardag op Vrydag 15 April gevier en is nou amptelik tieners. Hulle het ook die spesiale dag gevier deur deel te neem aan die NG kerk se kruisloop van Laaiplek na Velddrif. William vertel dat hulle daarna huis toe gegaan het en elkeen die dag verder saam met een maat elk gevier het. “Hulle bly nog maar ons babatjies hoewel hulle ons duidelik laat verstaan het dat hulle nie meer babas is nie, maar nou groot is,” vertel William.

Al drie is op 36 en ’n half weke in Panorama hospitaal gebore. Shana het 2,62 kg geweeg, Kiana 2,47 kg en Jana 2,12 kg.

Weslander het destyds oor hul geboorte berig en sover vasgestel kon word, is hulle die eerste drieling vir Velddrif (“Eerste drieling vir Velddrif, 30 April 2009).

“Tot vandag toe is hulle baie gesond en selfs goed in akademie en sport. Ons is baie trots op hulle. Hulle werk hard op skool en probeer hul bes om enige slaggate te vermy. Elkeen is uniek en het haar eie talente. Die Here het ons werklik geseën,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article