In hierdie lugfoto van die private grond, genaamd Standplaas 110 in Velddrif, kan die tydelike strukture in die leefgebied van die plakkers wat die private eiendom beset, gesien word. Foto: Bergrivier-munisipaliteit

Die Bergrivier-munisipaliteit moes drastiese stappe neem om te keer dat ‘n onwettige besetting van grond in Velddrif uitbrei.

Luidens ‘n persverklaring was die munisipaliteit genoop om stappe te doen ná ‘n ondersoek na talle klagtes rakende ‘n groep plakkers op private eiendom langs die Smitpark-sportterrein.

Die plakkers het die grond onwettig beset en amptenare van die munisipale Wetstoepassings- en Behuisingseenhede het op Woensdag 2 April ‘n inspeksie op Standplaas 110 uitgevoer.

Daar het hulle op tien mense, wat in vyf tydelike strukture op die eiendom woon, afgekom.

Die grond is vir landboudoeleindes gesoneer.

Die munisipaliteit het, ingevolge Artikel 4(1) van die Nasionale Bouregulasies en die Wet op Boustandaarde, verlede Maandagmiddag (7 April) ‘n amptelike kennisgewing van dertig dae aan die eienaar van Standplaas 110 uitgereik om die nodige stappe te doen om die situasie dringend die hoof te bied.

Volgens die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onwettige Besetting van Grond, 1998 (Wet 19 van 1998), moet die grondeienaar ‘n aansoek by die hof indien vir ‘n uitsettingsbevel.

Die eienaar van Standplaas 110 het ‘n prokureur aangestel en hulle berei hulle voor om die uitsettingsverrigtinge deur die hof te begin. Die munisipaliteit is ook bewus van die publiek in die groter Velddrif-gebied wat petisies onderteken om die oprigting van onwettige strukture op Standplaas 110 teen te staan.

“Die munisipaliteit neem ‘n ferm standpunt in teen alle vorme van onwettige grondbesetting en die oprigting van onwettige strukture op private sowel as munisipale eiendom, en sal voortgaan om binne die raamwerk van die wet op te tree om die publiek se regte ingevolge die Grondwet te beskerm en behoorlike grondgebruiksbestuur te verseker,” lui die verklaring.

Verder is die munisipaliteit in gesprek met alle belanghebben- des om ‘n wettige, maar steeds menslike oplossing, vir alle betrokke partye te vind.

Die publiek word aangemoedig om onmiddellik enige voorvalle van onwettige grondbesetting of die oprigting van onwettige strukture aan te meld deur Harry Benson by Wetstoepassing te kontak by 083 661 9253 of per e-pos by bensonh@bergmun.org.za. Aanmeldings kan ook anoniem gedoen word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article