Chris van Niekerk, voorsitter van die Velddrif-sakekamer, het ’n kartonboks van die vloer opgetel en aan gaste in die Riviera Hotel gewys.
“Sien julle die boks?” het hy lede by verlede Donderdagaand se sakekamervergadering gevra.
“Julle sal uit hierdie boks moet begin dink as julle sakegeleenthede om die Saldanha IDZ (nywerheidsontwikkelingsone) wil ontgin.”
Die gasspreker by die geleentheid, Abigail Murry, skakelpersoon by die Saldanhabaai-nywerheidsontwikkelingsone het lede in haar voorlegging vertel watter projekte van die IDZ reeds afgehandel is en watter projekte volgende op die agenda is.
Sodra die grootskaalse ontwikkeling heeltemal voltooi is, sal die IDZ op gas- en olieuitvoer fokus en ook ’n marieneherstelfasiliteit wees. Sy sê die omgewing bied nie net groot sakegeleenthede in die herstel van nywerheidsmarienetoerusting en -onderdele nie, maar ook in die vervaardiging daarvan.
Volgens Murry vind sy dit kommerwekkend dat die hele land van die IDZ praat, maar dat plaaslike mense van ’n buurdorp soos Velddrif nie juis weet wat daar aangaan en hoe hulle ekonomiese voordeel daaruit kan trek nie.
Elmondo Paulse, streeksonderneming- en verskaffing-ontwikkelingsbestuurder van Transnet, het ’n oorsig gegee van Transnet se belegging in die Saldanha IDZ.
Cornelis de Waal, hoofnavorser van Wesgro het die ekonomiese stand van die Wes-Kaap uiteengesit.
Volgens statistieke is die provinsie tans ’n invloedryke sake-eenheid in Afrika en in die wêreld. Hy meen inwoners van die Wes-Kaap, en die mooi plattelandse Weskus in besonder, moet die Wes-Kaap se goeie markposisie ten volle benut.
Yvette Odendaal van Bergrivier Toerisme, het uitdagings in die plaaslike toerismebedryf bespreek. Sy vra ook dat Velddrif se restaurante, hotelle en instellings wat vermaak en verblyf bied, uit die spreekwoordelike “boks begin dink”.
Sy sê Velddrif se toerismebedryf is op die Europese mark gerig, maar nie vir ontluikende markte nie. “Wat bied ons byvoorbeeld aan ’n toergroep van China?” wou sy weet.
Verder meen sy kliëntediens is soos op baie ander plattelandse dorpe “nie op standaard” nie. Sy voel daar is ’n groot leemte wat openbare vervoer vir toeriste betref, en daar is ’n behoefte vir meer konferensiegeriewe en -dienste asook kultuurervarings.
Om gesonde ekonomiese groei in die dorp te verseker het die ondervoorsitter van die Velddrif-sakekamer, Tilman von Zukowski, lidmaatskap aan die sakekamer sterk aanbeveel.
Besoek www.velddrif.info of bel die sakekamer se sekretaresse, Liza Steyn, by 022 783 0325 vir nog inligting.



