Lede by die opening van die Velddrif-skietbaan en -leersentrum.


Weskussers kan nou uitsien na die Velddrif-skietbaan en -leersentrum wat sy deure Maandag 21 Maart geopen het.

Geoffrey Coetzee, die eienaar van Marksman’s Nest Firearm Training Centre and Shooting Range, het 30 jaar ondervinding in vuurwapenopleiding en glo streng aan vuurwapenveiligheid.

Coetzee het in 2015 reeds ’n skietbaan in Malmesbury gestig en onlangs besluit om een in Velddrif te begin.

Volgens Coetzee bied die skietbaan ’n groot verskeidenheid kategorieë, wat iets vir almal beteken – alles van jag, langafstand skiet, selfverdediging en meer word gedek.

Allerhande teikens word geskiet.

Coetzee sê ’n stigma is soms aan skietbane gekoppel, maar hy wil ontslae raak daarvan.

“Ons dek alles wat met die skiet-ondervinding gepaard gaan, en dit lewer ’n bydrae tot skiet-ontwikkeling en om ’n area van leer te skep,” vertel Coetzee.

Hy sê hy wil die kennis en vaardighede wat hy in sy jare in die weermag en deur ander intensiewe opleiding opgedoen het, met ander deel.

Met sy bekwame span byderhand glo hy dit is iets wat hy kan bereik.

“Om met vuurwapenopleiding te begin, het jy geen vaardighede nodig nie – jy leer uit kundige hande.”

Velddriwwer Willemien Visser besit al jare ’n vuurwapen en het besluit om by die skietbaan en leersentrum betrokke te raak om meer oor wapenveiligheid te leer. “Ek het besluit om by die skietbaan aan te sluit sodat ek vaardig kan raak met my vuurwapen en dit te kan gebruik as ek dit nodig het,” vertel Visser.

Sy glo ook in die belangrikheid van vuurwapenveiligheid en om al die reëls na te kom. “My eie veiligheid is soos die lae van ’n ui. Dit begin buite by my heining, my honde binne, diefwering en my vuurwapen.

“Vandat ek by die skietbaan aangesluit het, is ek baie meer selfversekerd,” meen sy.

Coetzee voeg by ’n goed ontwikkelende vuurwapen-eienaar verseker verantwoordelike vuurwapeneienaarskap in Suid-Afrika. Skakel Coetzee by 082 727 2197 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article