“Alles het vir ons volgens plan verloop en as ons by die plan hou, kan ons die kaarte nog baie deurmekaarkrap.”
Só sê Handre Nero, afrigter van die Velddrif-rugbyspan.
Nero se span het Saterdag sy eerste oorwinning in die Boland-grootuitdaagbeker-rugbyreeks geproe toe die span Piketberg maklik 46-28 geklop het. Velddrif, wat rustyd reeds 27-13 voor was, het reeds van die vyfde minuut die voortou danksy ’n skepskop geneem. Hierna het die span nooit teruggekyk nie.
Volgens die afrigter was die oorwinning broodnodig en het die span nou op die regte tyd momentum gekry vir die res van die seisoen.
Velddrif, wat in ’n stadium 17-3 voor was, se verdediging kort nog skaafwerk, en dit is een aspek van die wedstrydplan wat aandag moet kry voordat die span die grafkelder Saterdag besoek, sê Nero. “Ons gaan gewis by die plan hou wat teen Piketberg gewerk het, en as alles uitwerk, behoort ons die tuisspan se kis te laat sak,” verklap die afrigter. “Ons het te veel punte aan Piketberg afgestaan, wat beteken ons sal Saterdag op ons beste teen die tuisspan moet verdedig.”.
Piketberg, wat dié seisoen sy buiging in die Weskus-streek maak, het reeds twee oorwinnings agter die blad. Dié span het Pella onlangs geklop en naelskraaps teen die Boland-kampioen, Saldanha, vasgeval en beklee die sewende plek op die punteleer. Velddrif het met ’n bonuspunt-oorwinning uit die laaste plek na die negende plek geskuif.
Paternoster het byna die onmoontlike vermag toe hy Saldanha op dié se tuisveld gepak het. Pato het die kampioen tot aan die einde in ’n wurggreep gehad, maar kon nie die uitklophou plant nie en het die wedstryd 22-28 verloor.
St. Helenabaai het sy onoorwonne status in die kompetisie behou toe hy Hopefield die afgelope naweek 41-24 geklop en sodoende sy eerste bonuspunt verdien het.
Vredenburg het hom Saterdag reggeruk ná sy loesing in Paternoster en die besoekende Young Hearts 28-15 geklop.. Vredenburg reis Saterdag na Langebaan en die tuisspan sal gewis ná sy tuisnederlaag van 12-20 teen Mamre wil vergoed. Die speelrooster is: Mamre t. Saldanha, Young hearts t. Velddrif, Langebaan t. Vredenburg, Piketberg t. St Helena en Hopefield t. Paternoster.




