Tussen 4 000 en 5 000 voertuie, wat swaargelaaide vragmotors insluit, beweeg daagliks heen en weer oor die Carinusbrug by Velddrif.
Dít is volgens syfers wat die Velddrif-sakekamer verlede jaar getrek het en wat uit beeldmateriaal van kamera’s op die brug spruit.
Johnny da Silva, die sakekamer-voorsitter, is sedert 2017 deel van ’n drukgroep bestaande uit inwoners, sakelui en politici, wat al verskeie pleidooie aan die Wes-Kaapse regering gelewer het oor die swaar verkeer wat Velddrif en Dwarskersbos se paaie moet dra.
Die gemiddelde aantal voertuie oor die brug is 4 700 per dag.
Die werk aan die historiese brug van sowat 70 jaar oud het in April begin en gaan tot Julie duur. Motoriste moet aan die dorp se kant by drie verkeerspunte wag om oor die brug te ry.
Met Weslander se besoek was die wagtyd by die punte besonder vinnig verby – uit albei rigtings.
Volgens Rick Thiart van die Riviera Hotel waar die verkeer daagliks op die hoek ophoop, ondersteun hulle die werk aan die brug 100%, want dit gaan bydra tot die vooruitgang van die dorp.
“Ons vat nou die bietjie ongerief op die ken, want dit is vir ’n groter doel.”
Die werk wat op hierdie tydstip aan die gang is, behels slegs die versterking van die brug.
Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, en Tertuis Simmers, die provinsiale minister van infrastruktuur, het verlede jaar tydens ’n gesamentlike besoek bekendgemaak dat ’n nuwe brug van sowat R160 miljoen beplan word.
Volgens Da Silva is R270 miljoen geoormerk vir die opgradering en herbou van die brug, maar met verlede jaar se vloedskade aan paaie elders in die provinsie is die geld uit nood daarop bestee, “wat verstaanbaar is”.
Hy meen die brug word gestabiliseer om tyd te wen om weer vir die opgradering en herbou te kan begroot.
Hoewel onverskillige en arrogante vragmotorbestuurders die paaie nog gevaarliker maak, is dit nie nét die verhoogde vragmotorverkeer wat Da Silva en ander bekommer nie.
“Vragmotors ís die grootste probleem, maar so ook die verhoogde verkeer vanweë die invloeivan besoekers en nuwe intrekkers.
“Ons paaie kan eenvoudig nie die verhoogde druk hanteer nie.”
Met verwysing na ’n ongeluk Saterdag (21 April) op die Velddrif-Piketbergpad, waarin ’n polisieman dood en een ernstig beseer is, het hy gesê die feit dat dié pad nie ’n skouer het nie, dra by tot vele ongelukke.
Vragmotors wat onklaar raak, kan nie van die pad aftrek nie, want daar is dik sand langs die pad.
Da Silva moes al net vanjaar ’n paar keer gaan help om vragmotors uit die dik sand te sleep.
In die naweek se ongeluk het ’n vragmotor se band gebars en moes dit noodgedwonge in die baan tot stilstand kom. Motoriste moes met groot omsigtigheid om dit ry wanneer daar geen aankomende verkeer was nie.
Die vragmotorbestuurder wat na bewering die ongeluk veroorsaak het, het dié stukkende vragmotor verbygesteek en reg van voor teen die aankomende polisiebakkie gebots.
Hoewel vragmotors die dorp se grootste probleem is, is dit nie die enigste probleem nie. Verkeer in die hele gebied het geweldig toegeneem.
“Ons het nie ’n persoonlike vendetta teen vragmotoreienaars nie. Hulle het die reg om sake te doen. Ons probleem is die bestuurders. As elke ou net verantwoordelikheid neem en veilig bestuur, sal dit al baie help.”
Da Silva het die Wes-Kaapse regering glo al in 2017 gevra of iemand eers moet doodgaan of die dorp heeltemal afgesny moet word voordat iets daadwerklik aan die verhoogde verkeer gedoen gaan word.
Inwoners vermoed baie van die vragmotors is oorlaai en vermy die hoofpaaie en weegbrûe op die N7 om daardie rede. Hulle maak dan eerder gebruik van die pad tussen Velddrif en Elandsbaai, wat deur Dwarskersbos loop, en die pad tussen Piketberg en Velddrif.
Die Carinusbrug dra verkeer uit albei rigtings.





