Veiligheid in die Weskus was vandeesweek weer onder die loep met ’n provinsiale veiligheidsberaad wat gehou is om die belangrike kwessie te bespreek. En met goeie rede.
Weslander berig weekliks oor inwoners en sakeondernemings wat onder misdaad gebuk gaan. ’n Aanval hierdie naweek in Saldanha, waar ’n bejaarde vrou in ’n huis in Saldanha op ’n inbreker afgekom het, het weer eens die vraag laat ontstaan: hoe gaan ons die mees weerloses in die gemeenskap teen sulke boosdoeners beskerm?
Hoewel by die veiligheidsberaad gepraat is oor planne om programme in te stel om veiligheidskwessies die hoof te bied, was die boodskap duidelik dat inwoners nouer bande met hul plaaslike buurtwagte en polisie moet smee om misdaad hok te slaan.
Almal is moeg om te hoor dat die polisie nie die mannekrag het om 24 uur per dag elke liewe inwoner in die land veilig te hou nie, maar dit is ongelukkig die werklikheid. Dit is dus kritiek belangrik om buurtwagte, die plaaslike GPF, veiligheidsmaatskappye en wetstoepassers, wat as hulpkragte vir die polisie dien, te ondersteun.
Sluit dus aan by jou plaaslike buurtwag of vra om op jou straat se WhatsApp-groep te wees sodat jy altyd bewus is van wat in jou omgewing aangaan en verdagtes kan aanmeld sodat hulle nie kans kry om in jou buurt amok te maak nie.


