Die Velddrif-sakekamer het Donderdag 17 Maart sy eerste vergadering vir die jaar by Soverby Lapa in Velddrif gehou.
Johnny da Silva, die voorsitter, het elkeen verwelkom en die vergadering is begin met Francois de Jager, direkteur van Redelinghuys- plaas- en buurtwag (RNFW) wat oor veiligheid in en rondom Velddrif gepraat het.
Dit volg kort ná die onlangse vlaag misdaad in die dorp.
De Jager sê om misdaad en kriminele aktiwiteite te verminder, wil die plaaswag ’n veiligheidsrisiko-bestuurstelsel instel, wat ook ’n nooddiens vir Velddrif en omliggende gebiede insluit.
“Die implementering van die sekuriteit- en veiligheidsdienste sal nie net die risiko van verdere skade of beserings verminder nie, maar ook ’n positiewe sin van veiligheid by werkers en inwoners skep en by hul welsyn inskakel. Die finansiële las van so ’n projek word nie oorgesien nie, en dit moet in ag gehou word dat buiten die lewensbeskerming dit ook finansiële verligting rakende interne en eksterne diefstal sal bied.”
Op ’n ligter noot is meer oor toerisme gepraat en veral die interessante aktiwiteite wat Velddrif het om te bied.
Da Silva het ook voortgegaan en oor sy interaksie met Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, met sy besoek aan die Weskus vertel en ’n oorsig gegee van waar die sakekamer betrokke is en wat sy toekomsplanne is.
Da Silva het ook klem daarop gelê dat almal sal moet saamwerk om die sukses van die dorp en sy ondernemings te verseker.
Mario Wessels, die onderburgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, was ook aan die woord en het oor die munisipaliteit se betrokkenheid en toewyding aan die dorp gepraat.
Die vergadering is afgesluit met sertifikate wat aan nuwe lede oorhandig is en verskeie gelukstrekkings.



